‘n Ystervarkie, oftewel Lamington, is ’n Australiese koek wat van blokkies botterkoek of sponskoek gemaak word. Die koek word met ’n laag sjokoladesous bedek en in uitgedroogde klapper gerol.
Probeer vandeesweek self hierdie lekkerny maak.
Bestanddele
4 eiers
1½ koppies strooisuiker
1 koppie olie
1 eetlepel vanieljegeursel
2½ koppies koekmeel
1 koppie melk
3 t bakpoeier
½ teelepel sout
Versiersel
1½ koppies versiersuiker
½ koppie kakaopoeier
3 e botter
1 koppie warm melk
1 t vanieljegeursel
2 koppies uitgedroogde klapper om te bedek
Metode
Verhit die oond vooraf tot 180 °C.
Meng die suiker en eiers in ’n menger vir sowat drie minute tot lig en donsig.
Voeg die olie en vanieljegeursel by en meng weer.
Voeg die meel, sout en bakpoeier by.
Voeg melk in bietjies by.
Gooi die mengsel in ’n reghoekige of vierkantige bakpan wat met bakpapier bedek is en bak vir 30-35 minute by 180 °C.
Laat koek afkoel en sny dan enige korsies af.
Sny nou die sponskoek in klein blokkies, omtrent 4 cm x 4 cm. Hierdie is die tradisionele grootte vir ystervarkies.
Maak die versiersel vir die koekblokkies deur die melk en botter in ’n kastrol op medium hitte te verhit.
Wanneer gereed, haal mengsel van stoof af en voeg die versiersuiker en vanieljegeursel en kakaopoeier by. Meng goed.
Rol elke vierkantkoekie in die sjokoladelaag tot alle kante bedek is.
Wees vrygewig hier met die sjokolade en maak seker die koekie is goed bedek. Dit is belangrik anders sal die klapper nie behoorlik vassit nie.
Rol dan elke vierkant in klapper.
Sit voor en geniet.





