Hlomla Hanabe van Boland word skoongeboul deur Juniad Dawood sonder dat hy enige lopies kon aanteken.Foto: Yaël Malgas


WP en Boland het mekaar Saterdag in ’n vriendskaplike T20-wedstryd op die Vredenburg-sportterrein gepak.

WP het die ervare Boland-span maklik met 82 lopies geklop nadat hulle die loot gewen en besluit het om eerste te kolf.

WP het ’n goeie 205/4 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken, wat die span van Boland die taak gelaat het om 206 vir ’n oorwinning te behaal.

Die Boland-boulers kon nie juis die kolwers onder druk plaas nie en ’n goeie aanvangsvennootskap het die grondslag vir die oorwinning gelê. WP se openingsvennootskap van 100 lopies met Daniel Smit (57) en Gavin Kaplan (43) het die krieketondersteuners behoorlik laat kraai van die plesier.

Boland se boulers het egter teleurgestel en Shaun von Berg sonder ondersteuning moedig probeer. Hy het in sy toegelate vier boulbeurte 3/25 geneem. WP se boulers het egter daarna die kolwers se voorbeeld gevolg en die Boland-kolwers uit die staanspoor onder druk geplaas.

Clyde Fortuin, die aanvangskolwer van Boland, is met die eerste bal uitgehaal, en daarna was dit net afdraand vir die Bolanders. Christiaan Jonker, wat ná Fortuin se vertrek ingekom het, het egter goeie weerstand gebied en ’n skaflike 42 lopies van 27 balle gemoker, wat drie sesse en drie viere ingesluit het.

Ferisco Adams se 34 van 20 balle het die Bolanders se telling effens beter laat lyk en die span is vir 123 lopies uitgehaal.

WP se boulers, met die draaier Juniad Dawood (3/12) aan die spits, het die veldtog in die Bolanders se ondergang gelei en is goed bygestaan deur Nandre Burger met 2/28.

Die twee spanne pak mekaar op 18 Oktober in die Krieket SA T20-uitdaagreeks in Potchefstroom

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article