Met sy nuutste enkelsnit, Sommer So, bewys Wouter van de Venter weer dat eerlike, reguit Afrikaanse musiek steeds diep kan tref. Die lied is rou, eg en deurdrenk met ’n vasberadenheid wat soos ’n refrein deur elke vers klop: jy gaan nie lê nie – nie vandag nie, nie môre nie.

Sommer So het sy ontstaan gehad in Julie verlede jaar, ’n tyd wat Wouter doelbewus gebruik om te skryf.

“Junie-maande is mos maar stil in die bedryf so ek gebruik gewoonlik daai tyd om te skryf,” vertel hy. Saam met twee ander liedjies – Poppe Dans en Jonk en Verlief – het Sommer So in daardie kreatiewe venster vorm aangeneem.

Sanger Wouter van de Venter.

Hoewel die lied sterk emosies dra, is dit nie gebore uit een spesifieke gebeurtenis nie. Die gevoel van alles wat “onderstebo” draai, is eerder iets waarmee hy en baie ander gereeld kan identifiseer. “Ek voel, en ek is seker baie mense kan relate, nogal gereeld so,” sê hy.

Die beeld van ’n koue see en ’n storm staan sentraal in die lied. Dit simboliseer die moeilike tye wat elke mens beleef. “Nie alles is altyd maanskyn en rose nie,” verduidelik Wouter. “Maar dit hang van jou af hoe jy daardeur gaan kom.”

Vir Wouter is deursettingsvermoë nie onderhandelbaar nie. “As jy gaan lê is dit neusie
verby, jy kan nie gaan lê nie!” sê hy met oortuiging. Dis hierdie “ek sal nie gaan lê nie” mentaliteit wat die hart van Sommer So vorm.

Sy vrou, Anita, speel ’n sentrale rol in sy kreatiewe proses. “Anita, my vrou, is my
grootste inspirasie deur my hele loopbaan.” Hierdie liefde gee nie net stabiliteit nie,
maar ook die emosionele brandstof wat sy musiek dryf. Sommer So bevat ook ’n skerp waarneming van die wêreld rondom ons.

As hy Sommer So in drie woorde moet opsom, kies Wouter: “Real. Eerlik. Inspireer.”

En dit is presies wat die lied doen. Dit erken die rowwe dae, maar dit bly nie daar vassteek nie. Dit kies om vorentoe te beweeg – sommer so. Wanneer die laaste note wegsterf, hoop Wouter dat mense positief sal voel. Dat hulle sal onthou die son skyn weer. Dat môre ’n nuwe kans bring.

Met hierdie enkelsnit lewer Wouter van de Venter nie net ’n lied nie, maar ’n
lewenshouding – een wat sê: al voel alles vandag onderstebo, môre vat ek die wêreld
oor. Sommer so.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article