Die gemene deler in talle plaaslike moordsake is woede, gevaarlike wapens wat mense saam met hulle dra, drank en die feit dat hierdie voorvalle meestal snags plaasvind.

Dit was ’n gewelddadige paar dae in Vredenburg waar drie mense sedert 27 Februarie vermoor is.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Vredenburg-polisie, is dit besonder baie – selfs vir Vredenburg – in minder as twee weke.

Sy sê ’n 23-jarige man, slegs bekend as Phenyo, is 27 Februarie in die vroeë oggendure deur ’n tienerseun (17) met ’n mes naby ’n smokkelkroeg in Vredenburg doodgesteek.

Die oorledene het na bewering in ’n bakleiery met ’n paar jeugdiges betrokke geraak. ’n Medebeskuldigde (16) het ’n mes by hom gehad. Hy het die mes laat val, waarna die 17-jarige die mes opgetel en die oorledene in die bors gesteek het. Dié mes is deur ’n ander seun (14) weggesteek.

Inligting is deur die Vredenburg-speurtak opgevolg, wat tot die inhegtenisneming van die 17-jarige skoolseun gelei het. Al twee seuns (16 en 17) het Vrydag (4 Maart) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

In ’n tweede voorval is die polisie in kennis gestel van ’n man wat in Goudstraat, Ongegund, in die pad met ’n meswond aan sy maag gelê het. Die gewonde man het aan sy beserings beswyk. Volgens Helfrich was dié voorval ook die aand van 4 Maart.

Die afgelope naweek is inligting opgevolg en ’n verdagte (29) is op aanklag van hierdie moord in hegtenis geneem. Hy het Maandag (7 Maart) in die Vredenburg-hof verskyn.

Nog ’n slagoffer (37) is Maandag (7 Maart) dood nadat hy naby die plaaslike Betterlife-tak met ’n skroewedraaier gesteek is.

Sy aanvaller het hom in die nagtelike ure na die Vredenburg-provinsiale hospitaal gebring, waar hy dood is.

Die ander man het erken hy het die slagoffer gesteek nadat ’n vurige bakleiery tussen hulle ontstaan het.

Die verdagte in die saak sal vandeesweek nog op ’n aanklag van moord in die hof verskyn.

Helfrich sê die aantal moorde wat onlangs in Vredenburg plaasgevind het, is baie kommerwekkend – veral omdat al hoe meer minderjariges by gewelddadige misdaad betrokke raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article