Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, het dit vandeesweek weer eens duidelik gemaak dat onderwysers wat permanent aangestel is, nié hul werk sal verloor nie.

Hy verduidelik dat die 2 407 onderwys­poste wat die onderwysdepartement (WKOD) moet sny, is kontrakposte wat die departement nie teen die einde van hierdie jaar sal hernu nie. Maynier het Dinsdag (3 Desember) ’n toespraak in die Wes-Kaapse parlement gelewer.

“Ons verminder die mandjie poste met 2 407, wat beteken sommige permanente onderwysers sal gevra word om na ’n ander skool te skuif waar ’n geskikte vakature beskikbaar is, en sommige kontrakonderwysers sal nie heraangestel word nadat hul kontrakte geëindig het nie.”

Die WKOD is genoodsaak om 2 407 poste te sny nadat die nasionale regering besluit het om dié departement se begroting te sny. Maynier het vroeër gesê die regering betaal net 64% van die nasionaal onderhandelde lone. Dit plaas massiewe druk op die WKOD om die oorblywende 36% te finansier.

Die tekort kom op R3,8 miljard te staan.

Hoewel die fokus meestal op die besnoeiing is van die poste wat gesny gaan word, is die departement gedwing om ook te sny aan die #BackOnTrack-program, infrastruktuur-uitgawes en administratiewe onkostes. Die #BackOnTrack-program fokus daarop om die leerverliese aan te pak wat deur die Covid 19-pandemie veroorsaak is.

“In my aanpassingsbegrotings­toespraak verlede jaar, het ek die massiewe knou wat ons begroting toegedien is, uiteengesit, en die belangrikste – die stappe wat ons sou doen om oorbesteding te vermy. Ek het die besnoeiings uiteengesit wat ons sou doen, insluitend aan die #BackOnTrack-program en infrastruktuurbesteding, om die gaping te help vernou. Ek het verduidelik dat hoofkantoor- en distrikskantoorposte gevries is en tot in die nuwe boekjaar so sal bly. Ek het ook uiteengesit om ons personeeluitgawes in die 2024-’25- boekjaar van 1 April 2024 te verlaag.

“Dit het beteken dat onderwysers sowel as kantoorpersoneel ekstra werk sou opneem en dat ons skole onder geweldige druk geplaas sou word. In my hoofbegrotingstoespraak vanjaar het ek weer die implementering van hierdie stappe in die 2024-’25-boekjaar uitgelig om ons in staat te stel om die gaping te probeer toemaak en die begroting te balanseer.

“Ongelukkig het hierdie maatreëls nie die geprojekteerde besparings meegebring wat ons gehoop het dit sou nie. Dus, nadat ons ’n drastiese begrotingsbesnoeiing van R2,5 miljard ingestel het, insluitend op administrasie, kurrikulum en infrastruktuur, gaan ons steeds ’n begrotingstekort van R3,8 miljard oor die volgende drie jaar in die gesig gestaar, en het dit ons geen keuse gelaat as om die mandjie poste te verminder nie.”

Volgens Maynier het die vermindering van poste die WKOD se in-jaar-tekort tot R405,8 miljoen te staan gebring. Dit beteken dat die departement nog ’n tekort het aan geld om sy uitgawes te dek.

“Dus, ’n bykomende toewysing van R250 miljoen is verskaf om ons te help om die gaping te verklein, en ons het die oorblywende tekort hanteer deur selfs erger nie-personeelbegrotingsbesnoeiings te maak. Die on-oormerking van R600 miljoen vir infrastruktuurfinansiering gee ons ’n mate van beweeglikheid om maniere te vind om groeidruk in die 2025-skooljaar te hanteer. Die R600 miljoen word egter aan infrastruktuurprojekte soos nuwe skole, vervangingskole en bykomende klaskamers toegeken.

“Hierdie projekte is reeds aan die gang, en dit is noodsaaklik dat hulle gelewer word, dus sal die gebruik van hierdie fasiliteit ’n absolute laaste uitweg wees.

“Die uitdaging vorentoe is nou die verskaffing van die infrastruktuur, onderwysposte en skoolhulpbronne vir die 2025-skooljaar in die lig van die verwagte toename in leerdergetalle,” het Maynier gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article