Die gewilde Winter-karnaval van die Bergrivier is Saterdag in Velddrif aangebied.
Die karnaval is in die verlede jaarliks saam met die Bergrivier-kanomarathon gehou, maar vanjaar is dit op die plein en in die plaaslike munisipale saal aangebied. Hoewel die geleentheid ’n nuwe tuiste het, is ou gewilde kompetisies soos die bokkom-eet en bokkomskil-kompetisie weereens aangebied.
Saam het Jonathan Klaasen, Jeniffer Andrews, Esmerelda Brits, Yolandi Afrika en Jamie Afrika vir die vierde agtereenvolgende keer die top-pryse as die vinnigste bokkom-skillers geneem. Saam het hulle 45 bokkoms binne twee minute geskil om die ander span te klop.
Benewens die vele stalletjies wat alles van roosterkoeke tot snoek en patat asook mooi handgemaakte artikels verkoop het, was daar ook optredes deur plaaslike kunstenaars soos Shaun Beer van Darling, Louis van Lill en Amoré.
Volgens Chevon Ellis, toerismebeampte vir Velddrif, was besoekers ingenome met die nuwe karnaval-terrein. “Ons het ’n wye verskeidenheid stalletjies gehad wat goed gewerk het. Teen 15:00 was meeste van die kosstalletjies uitverkoop. Dit is nou die eerste karnaval van sy soort, so ons kan dit nie vergelyk met die vorige jare nie, maar ons is baie tevrede,” het sy gesê.





