Terwyl huishoudings se begrotings gebuk gaan onder die hoogste rentekoerse in 14 jaar en astronomiese kospryse, loop winkels in die Weskus helder oordag deur onder winkeldiefstal.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is daar Vrydagmiddag net op Vredenburg drie klagtes van winkeldiefstal aangemeld.

In die eerste saak is ’n 44-jarige vrou dopgehou op ’n winkel se veiligheidskameras terwyl sy braaipakke in haar rugsak pak. Sy het so ewe na die kassier gegaan om darem vir haar koeldrank te betaal, waarna sy vasgetrek en die polisie ontbied is.

’n Vrou van 34 jaar wat twee beursies ter waarde van R300 probeer steel het, moes baie verleë die beursies aan die winkelpersoneel teruggee toe haar stelery die winkel se alarm laat afgaan het. ’n Saak van winkeldiefstal is geopen. Nog ’n winkeldief, ’n 21-jarige man, is op Vredenburg aangekeer. Hy wou R80 se sjokolade gaps.

In Vredendal het ’n 38-jarige man probeer om ’n lamsbraaipak van R230 te steel en ’n 34-jarige man ’n bottel drank ter waarde van R154.

Op Langebaan het ’n 30-jarige vrou van Seaview Park Saterdagmiddag probeer om met R1 255 se drank in haar sak by die winkel uit te loop. Sy was ook onbewus van die feit dat haar bewegings die hele tyd gemonitor is. Winkelpersoneel het haar vinnig vasgetrek.

Op Piketberg kon ’n 34-jarige man Sondag dit ook nie regkry om met ’n pak koekies en ’n Yogi Sip van R57 uit ’n winkel te stap nie. Ook hy is vasgetrek en ’n saak van winkeldiefstal is aangemeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article