En as die stof uiteindelik gaan lê het ná ’n nasionale verkiesing waarna ons almal so uitgesien het, is die vraag op almal se lippe – wat is volgende?
Ek was een van die stemgeregtigdes in ons land wat met my stem die duidelike boodskap uitgestuur het van “genoeg is genoeg”. Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrika het genoeg gehad van alles wat kon skeefloop in ons kosbare demokrasie. Ons het genoeg gesien, gehoor en beleef om te besef dat iets drasties moet gebeur om ons land van ’n algehele ineenstorting te red. Dié wat vir jare die septer geswaai het met ’n onversadigbare honger en drang na mag en persoonlike gewin, moes opnuut daaraan herinner word dat die eintlike mag by die gewone burgers van ons land gesetel is.
Ek wil dit vir altyd in my hart en geheue bewaar hoe ek op verkiesingsdag die mag van my stem gebruik het om te verseker dat ’n einde gemaak word aan die patetiese wyse waarop ons land bestuur word. Saam met my stem was en is daar ook my opregte gebed dat dinge daadwerklik sal verander in die guns van al ons mense wat so lief is vir hierdie mooi land van ons. Nog nooit het ek met soveel erns gebid dat daar lig aan die einde van die donker tonnel moet kom nie. Nog nooit het ek so gewens dat dinge net sal beter word vir die miljoene (die meerderheid in ons land) wat daagliks moet sukkel om ’n stukkie brood op die tafel te sit nie.
En as al die stemme klaar getel is en ons almal in afwagting sit om te kyk wat die volgende vyf jaar vir ons gaan of mag inhou, is ek net verlig dat die burgers van Suid-Afrika vir die eerste keer as ’n nasie saamgestaan en vir die soms onbeholpe politici ’n duidelike boodskap gestuur het dat ons nie meer as pionne in hul skaakspel misbruik wil word nie; dat ons moeg is vir hul leë beloftes, slapgattige bestuur van ons kosbare nasionale bronne en die arrogansie wat daarmee gepaard gaan. Ek meen – het hulle regtig gedink die vernietigende spoed waarteen hulle ons land die afgrond ingestuur het, kan vir altyd so voortgaan?
Dis ook nie asof ons vir die volgende vyf jaar kan bekostig om nog te sloer om verandering teweeg te bring nie. Ons brose ekonomie se reserwes van veerkragtigheid is lankal daarmee heen. Met al die rillerstories en bewyse van staatskaping is die staatskoffers leeggetap. Die bietjie wat nog oorbly, sal dringend ingespan moet word om ons land van algehele ineenstorting te red. Die klimaat vir positiewe ekonomiese groei sal dringend en daadwerklik aangepak moet word, want daagliks word nog ’n paar honderd duisend jongmense by die werkloosheidstatistieke gevoeg. Hulle wat afstudeer het, is moedeloos, want nêrens is ’n geleentheid om daardie eerste tree in die professionele arbeidsmark te gee nie.
Ek kyk die ander dag na ’n videogreep van ’n jong vrou wat haarself iewers in die buiteland bevind. Sy is ’n opvoeder in ’n land ver van haar eie. Die hartseer deel van haar storie is dat sy nooit die besluit sou neem as haar eie land beter na haar kon omsien nie.
Dan sien ek ook ’n videogreep van ’n mediese dokter. Kwalifikasies klaar verwerf, maar nêrens in Suid-Afrika kan die persoon ’n werk kry nie. Daar is glo nie geld om ekstra dokters aan te stel nie, maar iewers in ’n hospitaal sterf nog ’n pasiënt as gevolg van die tekort aan personeel. En soos ek hier skryf is een van daardie mediese dokters op pad buiteland toe om daar ’n verskil te gaan maak, want in ons eie land sal hy of sy vir ’n lang tyd moet wag vir daardie gaping om sewe jaar of meer se studies in die praktyk te gaan toepas.
Sal die winde van verandering uiteindelik sigbaar word na afloop van ons nasionale verkiesing? Sal ons vir die eerste keer volwasse politieke leiers in aksie sien wat nie net aan hul eie belange dink nie? Sal ons hierdie keer politieke leiers sien aantree vir diens wat die belange van miljoene Suid Afrikaners op die hart dra? Sal hierdie sewende administrasie dit kan regkry om die werkloosheidstrajek onder ons jeug om te swaai in ’n positiewe storie?
En as die pad van koalisieregering hierdie nuwe tydvak sal inlui, wonder ’n mens of dit nie juis die toets van die tyd vir ons politieke leiers is om saam te werk in belang van almal in Suid-Afrika nie. Net die tyd sal leer of ons leiers maar weer ego bo diensbare leierskap sal kies.
Een ding is seker, en dit is dat ons mense moeg gewag is om daadwerklike verandering te sien. Ná dertig jaar van demokrasie verdien ons land en sy mense beter as die krummels wat by tye vir hulle van die tafel af gegooi word.
Dis Jeugmaand. Ons kinders smeek julle (ons politieke leiers) om hierdie land mooier te maak vir hulle.




