Alan Winde sê die Wes-Kaap moet onafhanklik van Eskom word.


Die Wes-Kaapse premier wil hê die provinsie moet onafhanklik van Eskom word.

Die premier, Alan Winde, het Donderdag (12 Januarie) die eerste vergadering van sy nuutgestigte energieraad aangebied.

Teen die tyd wat die vergadering gehou is – nog nie eens twee weke die nuwe jaar in nie – was Suid-Afrika reeds midde sy eerste ronde van fase 6-beurtkrag vir 2023.

Volgens ’n persverklaring, wat op dieselfde dag (12 Januarie) uit die kantoor van die premier gestuur is, het die raad die grondslag gelê oor hoe dit saamgestel sal word en sy prioriteite uitgewerk, naamlik om te verseker dat die Wes-Kaap meer veerkragtig en bestand teen beurtkrag word.

Die voormalige Eskom-bestuurder Alwie Lester, wat as ’n energie-raadgewer in die kantoor van die premier aangestel is, is ook amptelik aan ander raadsamptenare by die vergadering voorgestel.

“Dringendheid is nodig as ons ons ekonomie wil red en die Growth For Jobs-strategie wil voortsit,” het Winde benadruk.

Hy het gesê beurtkrag kos Suid-Afrika en die provinsie miljarde aan verlore geleenthede.

“Dit word konserwatief beraam dat fase 6-beurtkrag Suid-Afrika tussen vier en ses miljard rand per dag kos,” het die premier beklemtoon.

Hy het bygevoeg: “Die dringendheid wat nodig is om hierdie katastrofe die hoof te bied, is pynlik afwesig by die nasionale regering. Die Wes-Kaap moet so gou as moontlik onafhanklik van Eskom word.”

Die raad het besluit:. sy werk moet data-gedrewe wees;. ’n wye verskeidenheid energieverskaffingsopsies moet oorweeg word;. alle lewensvatbare geleenthede moet ondersoek word; en. die kwesbaarste mense in die provinsie moet altyd in gedagte gehou word, aangesien hulle die swaarste kry as gevolg van meedoënlose kragonderbrekings, wat voorspel word dat dit vanjaar net sal vererger.

Anton Bredell, die minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het gesê: “Dieselfde reaksie wat die Wes-Kaapse regering toegepas het om Covid-19 te beveg, moet gebruik word om die energiekrisis aan te durf.”

Die raad het onderneem om die kundigheid van sleutelbelanghebbendes in die private sektor in te sluit.

“Ons moet die private sektor so vinnig as moontlik in hierdie raaisel bemagtig,” het die premier gesê.

Winde het op dieselfde dag wat die eerste energieraadvergadering gehou is, sy diepe teleurstelling in nog ’n persverklaring uitgespreek oor die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se besluit om ’n tariefverhoging van 18,65% vir die 2023-’24-boekjaar aan Eskom toe te staan.

“Dit is nog ’n slag vir burgers wat reeds onder erge druk is – veral arm inwoners in ons provinsie,” het hy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article