Menslike beendere van argeologiese en historiese belang word dikwels aan die Weskus ontdek.
Die afgelope naweek is nog ’n geraamte op ’n strand in Saldanha ontdek, omtrent twee jaar nadat ’n kind wat op dieselfde strand in die sand gespeel het, toevallig op die laaste rusplek van ’n ou seevaarder afgekom het.
Weslander het voorheen berig dat sewe ivoorknope en ’n metaalknoop in Januarie 2020 saam met die beendere van ’n man gevind is wat heel waarskynlik ’n matroos was wat 100 tot 200 jaar gelede geleef het en daar begrawe is (“Skeleton of man found in dune”, 23 Januarie 2020).
Die nuutste vonds beendere in Strandstraat, Saldanha, is die naweek afgesper en deur die polisie bewaak tot die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (Sahra) Dinsdag die beendere kom verwyder het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, plaaslike polisiewoordvoerder, sal Sahra die geraamte ondersoek om te bepaal wat die oorsaak van die persoon se dood is. Hulle sal ook onder meer probeer bepaal wie die persoon was en hoe lank gelede hy of sy gesterf het.
Historiese menslike oorskot word redelik gereeld aan die Weskus ontdek, veral op plekke waar bouwerk of nuwe ontwikkeling gedoen word. In baie van hierdie gevalle getuig hierdie beendere van ’n interessante herkoms.
Benewens Januarie 2020 se ontdekking van die seevaarder, het ’n groep kinders ’n paar maande later in September 2020 menslike beendere naby ’n grot in die Piketberg-omgewing ontdek. In Julie 2021 is beendere en ’n skedel op ’n bouperseel in Shelley Point ontdek. ’n Tradisionele seremonie is Vrydag 5 November – vier maande ná die vonds – gehou en sal in die Weskus Guriqua se erfenisregisters opgeteken word.
Weslander het in November verlede jaar berig dat die Guriqua-families van gemeenskappe van drie distrikte – die Bergrivier, Cederberg en Saldanhabaai- munisipale streke – asook Sedas (Cedrick Kleinsmith) en lede van die Nasionale Huis van Xam-stamme onder die leiding van die Guriqua-opperhoof, Anthony Andrews, vir die seremonie byeengekom het (“Hartroerende seremonie in Shelley Point gehou”, 18 November 2021).
Prof. John Parkington van die Universiteit van Kaapstad het na afloop van ’n hartroerende seremonie die oorskot na ’n veilige plek van bewaring geneem, waarna dit later behoorlik en eervol begrawe sou word.
Nie net is die Weskus ’n belangrike argeologiese gebied wat historiese mense-oorskot betref nie, maar is ook wêreldbekend vir sy buitengewoon goedbewaarde oerfossiele van onder meer die uitgestorwe kortnekkameelperde.
Die Weskus-fossielpark se fossielafsettings is gedurende die ontginning van fosfaat in die Langebaanweg-omgewing ontdek. Mynbou-aktiwiteite het in 1943 begin, aanvanklik by die Baard-steengroef op die plaas Langeberg, digby waar die lugmagbasis vandag is. Volgens Pippa Haarhof van die fossielpark is ’n groot deel van die fossiele vernietig voordat die mynmaatskappy wetenskaplikes daarvan bewus gemaak het. Mynbou-aktiwiteite is in 1993 gestaak. Iziko-museums in samewerking met ander rolspelers het die fossielpark in 1998 geopen.