’n Munisipale wetstoepassingsbeampte (42) het Dinsdag in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hy sy gewese vrou glo gewelddadig aangerand en haar ernstig beseer het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisie, het die beskuldigde, wat vir die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) werk, sy gewese vrou op 29 Januarie omstreeks 22:30 in Kootjieskloofstraat aangerand.
Volgens ooggetuies het dit gelyk of die man haar met ’n vuurwapen slaan.
Helfrich sê egter die man beweer hy besit nie ’n vuurwapen nie en het daarom ook nie ’n vuurwapen gebruik tydens die aanranding soos beweer word nie.
Die polisie het Dinsdag beslag gelê op die wetstoepassingsbeampte se amptelike vuurwapen, wat vir ballistiese toetse gestuur sal word. Die beseerde vrou ontvang tans mediese behandeling in Kaapstad vir die rekonstruksie van haar gesig.
Die beskuldigde, Ncedo Bacela, het Dinsdag (8 Februarie) op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Hy word in Malmesbury aangehou tot sy borgtogaansoek op 15 Februarie.
Ethne Lawrence, woordvoerder van die SBM, het Dinsdag in haar skrywe aan Weslander gesê “die aantygings teen die werknemer word intern hanteer en dié interne proses sal so gou as moontlik afgehandel word. Op hierdie [tydstip] is hy nie by die werk nie, maar steeds in aanhouding.”. ’n SBM-verkeersman is in Januarie 2018 in hegtenis geneem nadat hy ’n tienerseun in Paternoster te lyf gegaan het. ’n Groep kinders het op ’n munisipale kennisgewing afgekom wat van ’n paal afgewaai het voordat die verkeersman hulle genader het.. Op 7 Februarie 2019 het Weslander berig oor ’n provinsiale verkeersbeampte van Vredenburg wat in hegtenis geneem is nadat smokkelperlemoen in die bakkie gevind is waarin hy gereis het.. Op 29 Oktober 2019 is berig dat ’n ondersoek na vier munisipale wetstoepassingsbeamptes van SBM van stapel gestuur is nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle ’n 11-jarige seun in Witteklip, Vredenburg, gedwing het om sy eie ontlasting te eet.




