Die span kundiges kon self die impak van mynboubedrywighede op die Olifantsriviermonding waarneem. Foto: PTWC


’n Span Suid-Afrikaanse wetenskap­likes en omgewingskundiges, wat deur die omgewingsbewarings­drukgroep Protect the West Coast (PTWC) bymekaargebring is, het onlangs mynterreine naby die Olifantsrivier­mond besoek as deel van ’n oorsigprogram wat in September deur ’n hofbevel gelas is.

In ’n deurslaggewende oorwinning vir die toekoms van die Olifantsriviermond en omliggende gemeenskappe (“Regstappe red riviermond”, Weslander, 7 September 2023) is ’n ooreenkoms net voor PTWC se aansoek in die hooggeregshof om ’n interdik teen die Trans Hex-diamantmynreus te kry, buite die hof bereik en ’n hofbevel ter elfder ure in die hof toegestaan.

Miles Masterson en Steve Pike van PTWC het verduidelik die hofaansoek het gespruit uit die regering se hernuwing van ’n mynreg verlede jaar vir ’n verdere 30 jaar, sonder die nodige openbaredeelnameproses of ’n eietydse omgewingsimpakstudie. Dié aansoek is saam met die kleinskaalse vissersgemeenskappe van Olifantsrivier en Doringbaai en die individue Preston Goliath en Fabian Mohammed gedoen.

Benewens die bepaling dat Trans Hex (voorheen bekend as die Moonstone Diamond Marketing-maatskappy) en sy kontrakteurs onder meer nie in die kusgebied 2,8 km noord en 2,5 km suid van die Olifantsriviermond mag myn nie, gelas die hofbevel ook dat PTWC en sy mede-aansoekers vier keer per jaar ter-plaatse-inspeksies van die mynboubedrywighede mag hou en spesialiste mag vra om hul insae te gee.

Daarom is ’n span Suid-Afrikaanse wetenskaplikes en omgewingskundiges onlangs bymekaargebring om Trans Hex-mynterreine naby die Olifantsriviermond te besoek.

Die ekspedisie aan die einde van Oktober het volgens Patrick Forbes, die hoof van die PTWC-regspan, ten doel gehad om ’n vlak van toesig oor mynbou-aktiwiteite te vind om te verseker dat hulle hul wetlike verpligtinge nakom – ’n plig wat eintlik by die departement van minerale hulpbronne en energie berus.

Forbes het benadruk die hooffokus van die besoek was om die uitwerking van mynaktiwiteite op die Olifantsriviermonding te evalueer.

Die span het kundiges ingesluit op die gebiede van kussedimentdinamika in die mariene en terrestriële omgewings; rehabilitasie en restourasie wat spesifiek verband hou met die sensitiewe Weskusomgewing, hulpbronne van kleinskaalse visserye aan die Weskus en omgewingsbeoordelingsprosesse.

’n Ander mynmaatskappy, Mineral Sand Resources, wat in dieselfde gebied werk, het die span egter toegang tot sommige mynbouterreine geweier.

Forbes het verseker dat hulle volgende keer sal toesien dat die “tegniese aspekte” rakende toegang vroegtydig uitgestryk word en die span die toepaslike wetlik afdwingbare toegang sal kry.

Ten spyte van die terugslag het die span, van wie sommige die hofverrigtinge ook ondersteun het, eerstehands die mynbou-aktiwiteite sowel as die historiese nalatenskap van mynbou op die gebied ervaar.

Volgens Forbes was die algemene indruk dat ongereguleerde mynaktiwiteite ’n verwoestende uitwerking kan hê op hierdie sensitiewe gebiede en die riviermonding, wat ’n reddingsboei vir gemeenskappe is.

Die span het die invloed van verskillende soorte mynbou waargeneem en versagtende maatreëls bespreek wat benodig word om dit te minimaliseer, en ook die soort rehabilitasie wat in die Weskus-omgewing vereis word.

Hulle het voorbeelde van suksesvolle sowel as behoorlike rehabilitasie gesien, en ook gesien waar dit misluk het.

“As die eerste ekspedisie van sy soort het dit ook die belangrikheid van ‘oë op die grond’ beklemtoon om te verseker dat die mynbedryf en regering gemonitor en aanspreeklik gehou word,” het Forbes gesê.

“Selfs ’n vlugtige blik deur ’n leek kan sien watse ontwrigting deur mynbou vir boerdery veroorsaak word.” Die span het ’n skaapboerfamilie ontmoet, wat al agt geslagte in die omgewing boer. “Hulle moet die gekletter en stof van twee aktiewe mynbedrywighede op hul plaas die hoof bied, met nog ’n prospekteeraansoek in die pyplyn. ’n Plek verander fundamenteel wanneer massiewe mynvragmotors daagliks die gebied deurkruis.”

Forbes meen een voordeel van die ekspedisie is dat Trans Hex en ander mynmaatskappye nou onder die soeklig kom deur die bewyse wat oor hul aktiwiteite ingesamel word. “PTWC neem sy mandaat ernstig op om te verseker dat die maatskappy aan die wet voldoen.”

Nog ’n voordeel was die wetenskaplike data wat verkry is om die gebied waar mynbou verbied word, verder uit te brei.

Die span sal verslae saamstel uit die inligting wat hulle versamel het en dit sal gebruik word om ’n onskatbare hoeveelheid data vir besluitnemers bymekaar te maak wanneer hulle oor verdere mynaansoeke aan die Weskus moet beraadslaag, en ondersteuning bied vir openbare deelname en kommentaar op mynbou-aansoeke.

“Deurlopende monitering van oortredings sal voortduur by toekomstige terreinbesoeke en, waar nodig, sal dit met die betrokke owerhede en die mynmaatskappye opgeneem word,” het Forbes gesê.

PTWC berei reeds vir die volgende moniteringsekspedisie voor om volgehoue druk te verseker.

“Dit is slegs met die finansiële ondersteuning van die PTWC-gemeenskap dat ons dit kan laat gebeur. Ons benodig ’n aansienlike aantal vaardighede en ’n enorme hoeveelheid tyd en moeite om hierdie werk te koördineer. Ons sal nie stop nie. Mynmaatskappye daar bo [in Gauteng] is in kennis gestel. Dinge kan nie net aangaan soos altyd nie.

“Hul verpligting om te rehabiliteer en reg te stel, moet nagekom word. Daar is ’n beter manier, en ons is van plan om seker te maak dat dit gebeur.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article