Hoe besluit jy tussen brood op die tafel vir jou gesin of om jou kind skool toe te stuur?
Met hul kinders se veiligheid en welstand in gedrang, word ouers nou deur groot besluite in die gesig gestaar.
Hopefield-ouers van leerders wat by die Hoërskool Weston skoolgaan en in die skool se koshuis woon, het hul kommer uitgespreek oor die toestand van die gebou, maar meer so oor die feit dat ouers nie kan byhou met vervoerkostes nie.
Volgens Julinda Scheepers, wat in die koshuiskomitee dien en ook ’n kind in die koshuis het, word vervoer vir die Hopefield Weston-leerders nie gesubsidieer nie.
“Daar is nie altyd geld vir vervoer nie,” sê nog ’n ouer, Shaun Jackson.
“Die ouers hou nie by nie. Ons is die enigste Weskus-dorpie wat vervoer vir ons kinders skool toe betaal,” sê Jackson.
Scheepers verduidelik dat daar al vergaderings was in verband met die kinders se ongelukkigheid, die kos wat te min is, sekuriteitskwessies en die veiligheid van die leerders.
Scheepers sê ouers voel nie meer gemaklik dat hul kinders in die koshuis bly nie. “Dit het onder ons aandag gekom dat al die meisies in een blok bly, omdat die pype blykbaar op een vloer gebars het. Die kinders slaap nou op ’n hoop in een kamer. Daar slaap tot vyf of ses kinders in ’n kamer. Die vensters is stukkend, die erf is so vuil, daar groei ’n boom uit die pyp by die seuns se koshuis, die kinders kla hulle kry koud. Ons kyk winter in die gesig – hoe gaan ons kinders deur die winter kom?”
Scheepers sê ouers moet ekstra kos ook stuur omdat daar nie genoeg is vir die kinders nie. Met al hierdie kwessies wat ’n kettingreaksie veroorsaak, kom dit neer op bykomende koste.
Dus is daar tans gesprekke aan die gang om kontrakte te kry vir busse om die leerders elke dag te vervoer.
“Busse is die antwoord op al ons probleme, van ons emosionele tot ons finansiële druk. Dit is ons begeerte om ons kinders elke dag te sien skool toe gaan en terugkom huis toe,” sê Scheepers.
Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), sê hulle het die skool Maandag 6 Mei besoek om die leerders se behoeftes te bepaal en ’n verslag word saamgestel wat aan die hoofkantoor gestuur sal word vir oorweging, asook ’n projekplan vir goedkeuring. Hammond bevestig dat daar vensters is wat vervang moet word, asook sake wat geprioritiseer moet word.
“Op plekke word verfwerk ook benodig. Loodgieter-kwessies is na bewering opgelos en sal gemonitor word.”
Wanneer dit kom by vervoer sê Hammond die WKOD het duidelike beleide met betrekking tot skoolkoshuise en leerders se vervoer.
“ ’n Leerder kan óf ’n vervoersubsidie ??óf leerdervervoer ontvang – indien buite ’n radius van 5 km en indien daar geen koshuisverblyf beskikbaar is nie. Indien daar koshuisverblyf is, kan die leerder aansoek doen om ’n koshuissubsidie. Hulle kan nie vir al drie aansoek doen nie,” verduidelik Hammond.





