Die vergrootglas is opnuut op die voortbestaan van gedrukte media geplaas nadat Media24 Dinsdag aangekondig het hy oorweeg om die gedrukte uitgawes van vyf koerante te sluit en drie van hulle net digitaal te laat voortleef.

Daarmee saam doen hy afstand van sy gemeenskapskoerante-afdeling, waaronder Weslander en sy susterpublikasies soos Paarl Post, DistriksPos & Helderberg Gazette, EikestadNuus, Weskus Nuus, Swartland Gazette, Standard & Breederivier Gazette en Hermanus Times, val. Dit volg nadat die mediamaatskappy besluit het om dié portefeulje, tesame met sy medialogistieke onderneming On the Dot, wat die koerante se verspreiding hanteer, aan Novus Holdings te verkoop, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring.

Hoewel die nuus beteken dat Weslander nie meer onder die vaandel van Media24 sal sake doen nie, hou dit nuwe geleenthede in vir die voortbestaan van gemeenskapsjoernalistiek waarvoor elkeen van ons by Weslander ’n diep passie het. Ons lesers kan dus verseker wees ons sal onder die nuwe eienaarskap voortgaan met dieselfde standaard hoëgehalte-gemeenskapsjoernalistiek en kliëntediens wat ons die afgelope 52 jaar nagestreef het.

Lesers kan gerus wees dat geen onderbreking in Weslander se publikasieskedule beplan word nie en enige kommunikasie in hierdie verband asook enige inligting wat lesers en kliënte moontlik kan beïnvloed terwyl die oorskakeling plaasvind, betyds gekommunikeer sal word.

Ons maak staat op jou volgehoue en getroue ondersteuning. Maak seker jy kry weekliks jou Weslander, nou beskikbaar teen slegs R4!

Hier hou óns die Weskus ingelig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article