Chantell Cornelissen en haar gesin kamp al vir 11 jaar op Tietiesbaai. Klein Anene, die nuutste toevoeging tot die gesin geniet die tradisie wat haar ouers begin het net so baie.Foto:


Elke September vier Suid-Afrika Erfenismaand. Suid-Afrika se mense is ’n pragtige mengelmoes van verskillende tale en kulture. Ons het ’n rykdom eiesoortige tradisies en ’n komplekse maar interessante geskiedenis.

Maar só ook het elke provinsie en streek sy eie soort mense, outentieke kos, sêgoed en gebruike, wat hulle, húlle maak.

Die Weskus is geen uitsondering nie. Besoekers stroom na die gebied om die Weskus se natuurlike en kulturele erfenis te kom geniet. Bokkoms, kreef, wit gekalkte vissershuisies, tapyte van wilde madeliefies gedurende die lente en sout van die aarde-mense is maar ’n paar van die Weskus se kosbare erfenis-trekpleisters.

En elke Weskusser het natuurlik sy eie familie-erfenis, staaltjies wat van geslag tot geslag oorgedra is, gesinstradisies, nostalgiese items wat ou herinneringe oproep en waarvan ons net nie ontslae kan raak, of pragtige familie-erfstukke.

Dink so bietjie, wat is jou familie se erfenis? Voor die son finaal oor Erfenismaand sak, gaan pak vir ’n slag daai ou familiefoto’s uit wat al stof opgaar in jou motorhuis. Dit mag jou dalk net wegvoer na spesiale oomblikke uit die verlede en jou van voor af inspireer om jou geliefdes te waardeer.

’n Ou familie-Bybel in Trish Goosen se familie wat uit die 1800’s dateer val al uit mekaar, maar sy en haar man begin nou met ’n nuwe familie-Bybel waarin hulle onderskeie stambome ook aangeteken word.Foto:

Christo Momsen (agter) en sy oupa, pa en seun is vier geslagte wat lief is vir jag en die buite-lewe.Foto:

Die Barbie-pop wat Maryke Swart se pa vir haar destyds gekoop het, het spesiale sentimentele betekenis.Foto:

Oukersaand is vir Madelie Tolken se groot familie altyd ’n spesiale gebeurtenis en tradisie wat hulle vir niks sal verruil nie.Foto:

Weslander is Weskus-erfenis

Weslander wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier, verskaf al vir vyf dekades plaaslike nuus aan die Weskus en die Weslanderspan is trots daarop om deel van die Weskus se ryk erfenis te wees. En daarom het Weslander se span dit goed gedink om met lesers ons elkeen se familie-erfenis te deel.

Madelie van Tonder, advertensieverteenwoordiger

Vir my is een van die hoogtepunte van my jaar ons familie se Kersfees-tradisie. Oukersaand kom die hele familie met die kinders en kleinkinders bymekaar. Daar is altyd ’n Kersvader wat die berg van geskenke aan die opgewonde klein woelwaters uitdeel. Elke jaar is dit niggies, nefies, oumas, oupas en kleinkinders net waar mens kyk. Ons is gewoonlik so tussen 40 en 55 mense saam op Oukersaand. Daar was al tye wat ons plekke moes huur omdat ons familie so groot is. Daar word geopen met gebed en dan word liedjies gesing en daarna begin die geselligheid. Elke Kersoggend is dit ’n instelling dat ons saam kerk toe gaan. En natuurlik rol ons almal se trane elke keer as Stille Nag gesing word. Op Kersdag het ons ’n formele ete. Tafels word volgens kleur of tema gedek en dan geniet ons ’n tradisionele boud, hoenderpastei en al die lekker goed wat daarmee gepaard gaan. Ek verruil dit vir niks.

Linda Luyt, ontvangsdame

Ek onthou die goeie tye tydens die Feesseisoen. Dit was altyd ’n tyd waarna ons as die Brutus-kinders baie uitgesien het.

Dit het nuwe klere en ’n rit Kaapstad toe beteken.

Toe ons klein was het al ons kinders gewoonlik vir die vakansie in Kuilsrivier, Sarepta gaan kuier.

Dit was my pa en ma se geboortedorp en waar vyf van ons kinders ook gebore en grootgemaak is.

Die jongste van ons ses kinders is in Vredenburg gebore en ons het natuurlik in 1972 Vredenburg toe getrek.

Om al die niggies, nefies, familie en vriende een keer ’n jaar, oor die Feestyd te sien was altyd ’n wonderlike vooruitsig.

Ons was baie deur my pa se oudste suster, haar man en hulle kinders bederf wanneer ons daar gekuier het. Haar huis was natuurlik oorvol, maar dit was die lekkerste kuiers ooit.

Nadat my tannie oorlede is, het ons nie meer so gereeld gaan kuier nie, maar my pa het iets anders in plek gesit sodat ons nie oor vakansietye teleurgestel sou wees nie.

Die Weskus-dorpe het ons nuwe vakansietuistes geword, veral Jacobsbaai en Laingville in St Helenabaai.

Laasgenoemde is ook die dorp waar baie van ons familie woon.

Kersdag was daar baie kos gemaak en die samesyn met familie en vriende was heerlik. Ons kinders kon self besluit watter lekkergoed ons vir Kersdag wou hê.

Na etes kon ons kinders doen net wat ons wou, maar mag ook nie ver van die huis af beweeg het nie. Die dag na Kersfees was nog altyd tradisioneel ’n strand-dag in ons familie.

Ek onthou met lekkerte volgepakte kosmandjies en piekniekkomberse. Daar was waatlemoene, spanspek en koekies.

Van vroeg af was almal besig om gereed te maak vir die groot tog strand toe. Die gewaggery vir ons vervoer was die langste wag ooit.

Daar was gewoonlik bootjies op Jacobsbaai waarmee ons in die vlak water kon baljaar. Kinderstemme was oral te hoor, nuwe vriende is gemaak met al die ander wat ook Jacobsbaai besoek het.

Laat agtermiddag het oppak-tyd aangebreek, iets waarna niemand van ons uitgesien het nie.

Daardie aand sou niemand wakker bly tot na agtuur nie, want ons was pootuit.

My pa en ma het die see-ervaringe begin en tot vandag toe kan die Brutus-kinders steeds nie van die see af wegbly nie. Sodra dit warm word aan die Weskus, is ons op die strand. Dankie pa en ma dat julle vir ons kinders so ’n mooi erfenis nagelaat het.

Yaël Malgas, joernalis

Daar is baie dinge wat ek as my familie-erfenis beskou, maar die erfenis wat ek daagliks uitleef is ’n liefde vir woorde.

’n Liefde vir woorde wat lyk soos ’n studeerkamer vol boeke, stapels koerante in elke vertrek, RSG wat heeldag oor die radio speel en ’n diep liefde vir ’n boekwinkel. Die liefde vir woorde beteken jy kan maar weet jy sal ten minste een boek as Kersgeskenk kry. Die liefde vir woorde klink soos Mamma se Mosselbaai-sêgoed wat steeds op haar kleinkinders se tonge gehoor kan word. Woorde is vasgevang deur my oupa se preke en ouma se talle papiertjies vol notas op haar kombuistafel.

En vandag is ek ’n joernalis en verdien my salaris met woorde.

’n Liefde vir woorde is ’n besonderse erfenis om te hê, want daar is altyd nog ’n storie om te hoor, iets nuuts om te leer en nuwe woorde om te ontdek.

Chantell Cornelissen, advertensieverteenwoordiger

Ek en my man Corrie en seun Arno kamp al vir elf jaar op Tietiesbaai en is ook daar getroud. En onlangs het klein Anene bygekom wat net so lekker saam kamp.

Ons geniet die feit dat Tietiesbaai naby die huis is en dat dit minimale selfoonsein bied. Om van die lug af te wees is absolute saligheid.

Niemand hoef niemand te oortuig om te gaan kamp nie. Iemand sê net “Tietiesbaai!” dan begin die res al te pak.

Christo Momsen, advertensieverteenwoordiger

Ons is vier geslagte Oupa Stoffel, Pa Pieter ek en my seun Andro wat lief is daarvoor om te gaan kamp, te jag en om die buite-lewe te geniet.

Ek is al een wat kreef duik. My tweede familie het my deur my oorlede skoonpa geleer.

So ja, ek dink ek is bevoorreg, ek het die beter helfte van beide families-tradisies – jag en duik.

Noluvu Ludidi, joernalis

’n Familie-tradisie wat al jare aankom in my gesin is Oukersaand. Op daardie aand kom die hele gesin bymekaar om fees te vier. Die huis word van bo tot onder versier en jy loop beslis daar weg met ’n vol magie. Wat die aand spesiaal maak is wanneer dit tyd raak om die geskenke uit te deel. Iemand in die familie trek dan soos Kersvader aan en maak ’n “grand entrance” met sy klokkie. As kind was dit ’n groot opgewondenheid en selfs nou as volwassene geniet ek hierdie jaarlikse familie-tradisie wat vir ons geweldig spesiaal is. Deesdae se generasie kinders het so slim geword hulle kan al met die instap sê dis “oom Piet” byvoorbeeld wat die kostuum aan het. Almal sit dan rondom die Kersboom terwyl jou naam uitgeroep word en Kersvader jou geskenk uitdeel. Die tradisie is al deel van my lewe vir die afgelope 25 jaar.

Trish Goosen, joernalis

In ons familie, aan my ma se kant is ’n swaar, ou hardeband familie-Bybel met pragtige kleur illustrasies wat na die 1800’s terug dateer. Dit het aan my ouma se pa behoort, maar daar is vorige geslagte se troudatums voor in die Bybel aangeteken. Dis vir my so besonders. Die Bybel val uit mekaar uit en my tannie het al navorsing gedoen om dit te laat restoureer, maar dit gaan derduisende rande kos. Intussen hou ’n agterkleinkind en naamgenoot van my oupagrootjie die Bybel veilig by hom. Dit kan ongelukkig nie meer baie hanteer word nie, omdat dit so vodde is. Verlede Kersfees het my ouers en sussie vir my en my gesin ’n nuwe familie-Bybel gekoop in ons gunsteling Engelse vertaling, die King James-weergawe. Voorin is daar plek vir ’n aantekening vir die huweliksbevestiging vir die paartjie aan wie die Bybel behoort en afsonderlike bladsye waarop die man en vrou hul onderskeie stambome kan aanteken. Dit is vir my en my man Alwyn baie spesiaal omdat ons so amper drie jaar terug God werklikwaar op ’n intieme vlak begin ken het. Ons lewens is heeltemal getransformeer en God se Woord het vir ons ’n lamp vir ons voet en lig vir ons weg geword. Die ou familie-Bybel het dalk sy dae gehad, maar ons begin nou in ons geslag met ’n nuwe familie-Bybel.

Maryke Swart, redakteur

As mens klou ek meer vas aan herinneringe as besittings omdat dit vir my meer persoonlike waarde het. Of mens dit as sulks as tradisie kan definieer, weet ek nie, maar ’n ingesteldheid in ons huis van kindsbeen af was ’n Saterdagaand braai – tradisioneel ’n skaaptjoppie (en braaibroodjie) op die kole, maar as my pa so af en toe sy sin kon kry, was potjiekos op die spyskaart. ‘n “Tradisie” wat ek en my suster oor die afgelope paar jare oor die Desember-vakansie opgebou het was ons Hallmark Christmas movie marathons met baie springmielies en groot drome oor hoe ons eendag elkeen van hierdie klein Amerikaanse dorpies oor Kersfees gaan besoek.

Daar is wel twee items wat my baie na aan die hart lê. Die een is ’n Barbie-pop wat my pa as kind vir my een keer as geskenk saamgebring het toe hy op ’n sakebesoek na Durban gereis het. Ek dink in retrospek koester ek meer die gebaar daaragter omdat dit iets is wat hy heeltemal onverwags en op eie inisiatief uitgekies het (ons spot hom dikwels omdat hy selde geweet het wat in die verjaarsdagpakkies of kersbokse was wat hy vir ons “gekoop” het). Ek het tot vandag toe die pop, wat met die mooiste wit trourok aan gekom het, en hoop ek kry die kans om dit een dag na my eie dogtertjie oor te dra. Die ander is my oorlede ouma se handgeskrewe resepteboeke – sy kon die lekkerste kos maak wat mens ’n myl ver kon ruik as jy na haar huis aangestap gekom het. Die feit dat dit in haar eie handskrif geskryf is, maak dit net soveel meer spesiaal – iets eie en uniek aan haar waaraan mens kan vashou veral wanneer die verlange knaag.

Justin Cupido, uitgewer

Ons groot tradisie is rondom Kersfees. My pa maak elke jaar vir ons ’n kalkoen gaar en hy het ’n baie spesiale resep vir die vulsel wat hulle daarin sit. Dit is dan ’n verdere tradisie dat al die kinders en nou ook met hulle uitgebreide gesinne almal saam die by-kosse in die kombuis voorberei.

Ons probeer elke jaar nuwe resepte om die Kerstafel iets te maak om na uit te sien. Dit is absoluut ’n geseënde gevoel wat heers van dankbaarheid. ’n Refleksie van nog ’n jaar wat verby is, die laagtepunte wat oorkom is word saam met al die hoogtepunte van die jaar gereflekteer en die liefde en geboorte van Christus word tasbaar.

Ek en my suster speel Kersliedjies op die klavier en die hele gesin sing saam. My pa speel vir ons op die klavier, al die gunsteling musiekstukke wat sy oorlede pa, my oupa, gewoonlik vir hulle op die klavier gespeel het op Kersdag.

Die CD – Kersfees tuis – speel in die agtergrond soos wat ons luister na Suid-Afrikaanse kunstenaars wat sing oor ’n Somerkersfees – dit maak ons dankbaar vir ’n land soos Suid Afrika.

Na ete is almal in die swembad en ons voel die warm somerseisoen op ons vel terwyl ons feestelik verkeer. Die luister van Afrikaanse kunstenaars wat Kersmusiek maak is ’n tradisie wat ons so koester, dat selfs een jaar toe die familie Kersfees in België deurgebring het, het ons dit steeds voortgesit terwyl ons na die sneeu gesit en kyk het. Ons tradisie is dan seker eg trots Suid-Afrikaans.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article