Tot op hede was daar elke dag beurtkrag vanjaar. Gryslyste, begrotings en kwaaddoeners oorheers die nuus, maar hierdie gebeure is nie ’n werklike weerspieëling van Jan Alleman se ervarings en optredes nie.

Weskussers is flink-dinkers en mense wat saamstaan in tye van nood. Deesdae voel dit asof daar elke dag nood is, maar om in sak en as te gaan sit help net mooi niemand nie.

Daar is altyd mense wat inspring om te help en lede van hul plaaslike buurtwag word, mense wat ander se lewe vier en vereer ná ’n tragedie, en Weskussers wat dekades aan die onderrig van jongeres gewy het.

Die wiel is besig om na beter dae te draai en al is die beweging dalk stadig, is dit geen rede tot wanhoop nie. Ten spyte van al die ongemaklike en moeilike alledaagse uitdagings is daar soveel hoop en liefde. Kyk gerus na getuienis hiervan in talle berigte in vandeesweek se uitgawe.

Mag ons almal genot vind in die kleiner dinge en die ligpunte in ons gemeenskappe raaksien, al skakel Eskom elke paar uur ons elektrisiteit af.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article