Talle Weskussers het by die White City- veeldoelige sentrum vergader om meer oor Karpowership se planne te wete te kom.
Die Karpowership-projek beoog om ’n gas-tot-elektrisiteit-skip in Saldanhabaai te anker. Volgens Karpowership SA sal dié projek help om die elektrisiteitskrisis in die land te help verlig.
Die maatskappy is tans besig met hul openbaredeelnameproses met die volgende sessies wat in Coega en Richardsbaai gehou sal word.
Maandag se Weskus-sessie was die eerste van die drie en het ’n voorlegging in lewende lywe sowel as aanlyn behels.
“Ons is ná maande se gemeenskapsbetrokkenheid verheug om die volgende stap te neem om betroubare elektrisiteit te verskaf. [Maandag] was ’n sukses met honderde lede van die gemeenskap en die media opgedaag het om met ons in gesprek te tree en die feite te kry, bekommernisse te deel en te hoor watter voordele ons projekte vir plaaslike gemeenskappe inhou.
“Ons bly daartoe verbind om Suid-Afrika se energiekrisis te help verlig, die las van beurtkrag te verminder en die daaglikse lewe van Suid-Afrikaners te verbeter terwyl huidige uitlaatgasse aansienlik verminder word,’’ het Kurt Morais, korporatiewe verhoudingsbestuurder vir Karpowership SA, gesê. Die projek is egter nie sonder sy teenstanders nie.
Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het vanjaar ’n hofaansoek teen die maatskappy ingedien om hul opwekkingslisensie tersyde te stel.
Intussen het Barbara Creecy, die minister van bosbou, vissery en omgewingsake, ook die projek se omgewingsgoedkeuring afgekeur.
Een van die redes vir die afkeuring was die openbare konsultasieproses. Karpowership SA is dus nou besig met dié proses en het nog tot 13 Januarie tyd om al die nodige aansoeke en prosesse te voltooi.
’n Deel hiervan was om konsep-omgewingsverslae op te stel.
Volgens Karpowership SA was meer as 30 onafhanklike spesialiste deel van die assessering vir elk van hul beoogde vasmeer-plekke.
“Betekenisvolle betrokkenheid by die publiek is ’n noodsaaklike deel van hierdie proses, en Karpowership SA is ten volle verbind tot deursigtige handelinge met gemeenskappe en belanghebbendes, asook die implementering van die uitgebreide sosiale en ekonomiese voordele wat die projekte vir plaaslike gemeenskappe sal inhou,” het die maatskappy Maandag in ’n verklaring gesê.
Daar blyk egter wel plaaslike ondersteuning vir die projek te wees, veral in die lig van die plaaslike ekonomiese uitdagings.
Sammy Claasen, ’n plaaslike raadslid, het in sy hoedanigheid as woordvoerder van die West Coast Black Business Alliance gesê die omgewing kan nie altyd bo werkskepping geag word nie.
“Die land het ’n elektrisiteitskrisis. Ons is in die donker en gefrustreerd met die gebrek aan elektrisiteitsvoorsiening aan huise, ondernemings, hospitale en skole. Beurtkrag raak ondernemings en sal tot werkloosheid en armoede lei.
“Ons het ’n probleem met sogenaamde omgewing-stemmingmakery wat ’n veel hoër premie bo die behoeftes en belange van die land en dié van die mense stel. Hulle gebruik hoofstroommedia om ’n narratief teen die tegnologie van Karpowership te stoot en hulle praat asof ons gemeenskappe met hulle saamstem.
“Ons stem nie saam met hul sienings nie, want hulle raadpleeg ons nie of erken ons behoeftes nie. Ons het werk nodig en beurtkrag moet stop,” het Claasen aan Weslander gesê.




