Breyton Bester is vanjaar se Mnr. Wes-Kaap.


Om aangewys te word as Mnr. Wes-Kaap 2024 is vir die jong Vredenburgse inwoner Breyton Bester ’n groot eer.

Dié 19-jarige het aan die Mnr. en Mej. Wes-Kaap-kompetisie deelgeneem omdat hy glo dit is die geskikte platform om ’n verskil te maak, sy waardes te bevorder en sy leuse – “Spread kindness, spark change” – op ’n hoër vlak in sy gemeenskap uit te leef.

Dié spoggeleentheid, wat deur OMT Pageants aangebied is, het Saterdag 23 November by die NG kerk Bellvillevallei plaasgevind.

Bester het in die Mnr.-afdeling teen deelnemers tussen 19- en 29 jaar deelgeneem. Hy sê hy moes ter voorbereiding vir die kompetisie verskeie geleenthede as ’n gas bywoon en op verskeie maniere liefdadigheid doen. “Ek het ter voorbereiding vrywillig by AFM Welfare gewerk, asook by die Hoërskool Weston, waar ek in 2022 gematrikuleer het. Ek het met die voedingskema gehelp. Ek het ook as ’n blyk van waardering geskenkpakkies aan die werkers van Panorama Primêr oorhandig om hulle namens die skoolgemeenskap vir hul uitstekende diens te bedank.”

Bester sê hy is trots op wat hy tot dusver bereik het. “Ek is baie trots op myself. Hierdie titel het harde werk geverg. Ek is ook baie dankbaar vir hierdie geleentheid en terselfdertyd is ek gereed om my gemeenskap in die beste van my vermoë te dien.”

Bester het nog altyd ’n liefde gehad vir styl en skoonheid en iets binne hom het lewe gekry gedurende ’n fotosessie saam met sy gesin verlede jaar toe die fotograaf hom vra om ’n paar style vir die kamera te doen. “Ek het dit so baie geniet en vervolgens nog ’n paar individuele sessies met haar bespreek. Dit het my geïnspireer om my droom in modelwerk te volg.”

Tans is Bester besig om sy Baccalaureusgraad in onderwys te verwerf.

Hy sê die platform as Mnr. Wes-Kaap bied hom die perfekte geleentheid om goedhartigheid te versprei.

“Tans doen ek liefdadigheidswerk orals waar ek kan om my gemeenskap ’n beter plek te help maak.

“Ek beplan om baie meer vrywilligerswerk in die gemeenskap te doen – veral wat die opvoeding van ons nuwe geslag betref – en om te verseker dat elke kind goeie en hoëgehalte-onderwys ontvang. As Mnr. Wes-Kaap 2024 is ek vasberade om ’n positiewe verandering te maak deur my gemeenskap op te hef deur die bemarking van individuele bemagtiging, onderwys en sosiale verantwoordelikheid, asook om ’n inspirasie vir ander in my gemeenskap te wees.”

Vir mense wat ook die roete van modelwerk wil volg en aan kompetisies wil deelneem, moedig Bester hulle aan om dit met albei hande aan te gryp en nie te huiwer nie. “Hierdie is jou geleentheid om te groei en aan jou persoonlike waardes en vaardighede te werk. Glo in jouself en alles waarvoor jy bestem is!”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article