Kyk mooi daar in die Anker-kuierplek of die Oos-Wes Kafee in Ruiterbosch – Weskussers sal ’n bekende gesig daar sien.
Kykers van die sepie Suidooster sal Mandrich Carolus in die agtergrond raaksien. Carolus (40) het ’n paar jaar gelede besluit om sy droom om ’n akteur te word na te streef.
Dié Vredenburger het toe by die oud-Egoli-ster Brümilda van Rensburg se akademie aangesluit. Sedertdien het hy verskeie agtergrondwerk in onder meer Arendsvlei, Lui maar op Belinda en Suidooster gedoen.
“Dit is ’n wonderlike ervaring. In Suidooster was [ek] ’n byspeler, in Projek Dina het ek die rol van ’n bendelid vertolk en in Arendsvlei was ek ’n bewaarder. Elke rol wat ek tot dusver vertolk het, was uniek,” sê hy.
Die wye spektrum rolle eindig nie daar nie en kykers wat vir Lui maar op, Belinda inskakel, sal Justin sekerlik as die afleweringsman herken. Dit was juis sy werk met Van Rensburg wat hom dié rol laat losslaan het, aangesien die veteraanakteur hom vir die rol voorgestel het.
Carolus het in 2019 na die Stad van Goud gereis. Hier het hy aan ’n ses weke lange sessie van Van Rensburg deelgeneem waar akteurs geleer is om praktiese vaardighede te omskep.
As kind het hy in sy ouma se kombuis die eerste keer besef hy kan ander vermaak.
“Ek het jaar ná jaar vir myself gesê ek gaan dit doen – ek gaan nou ’n akteur word. Dan sit ek volgende jaar net weer waar ek was. Ek wou nie só aangaan nie. Ek het geworstel met die idee om my werk te los om my passie te volg. Ek het egter kinders en ’n huishouding om in ag te neem, maar ek het baie ondersteuning gekry,” het hy destyds oor sy besluit om die bankwese agter te laat, gesê.
Benewens die werk voor die kamera is Carolus ook besig om ’n drama te skryf. “My droom is om eendag ’n boek te skryf, maar ek geniet wat ek voor die kamera doen. Ja, daar is altyd ’n bietjie senuweeagtigheid wanneer jy ’n nuwe karakter het,” bieg hy.
Kykers wat Turkse en Indiese sepies in Afrikaans geniet, sal Carolus se stem hier ook hoor indien hulle hul ore goed spits. Hy doen nou stemwerk vir die gewilde sepies.
Carolus skryf sukses toe aan goeie ondersteuning van sy familie en vriende soos Abigail Marcus.Sy geloof is ook belangrik: “Ek wil aan God al die eer gee. Hierdie loopbaan is nie altyd maklik maar Hy dra my.”
Intussen kan kykers hul oë oophou om Carolus in die hoërskool van Arendsvlei, Ruiterbosch of ’n ander sepie-wêreld raak te loop.





