Ná vele stemme is David Jantjies, die nasionale voorsitter van die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM), amptelik as die Weskus se verteenwoordiger in die raad van die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) aangestel.

Lennie Davids, voorsitter van die Weskus-CSPRM, vertel hulle het hard gewerk in die Weskus-dorpe – Vredenburg, Saldanha, Laingville, Hopefield en Langebaan – om stemme te werf.

“Selfs in dorpe soos Malmesbury, Moorreesburg, Piketberg en Porterville het mense in groot getalle gestem,” vertel hy.

Hy sê Jantjies het ná ’n taai verkiesingsveldtog onder twaalf kandidate landwyd die tweede meeste stemme ontvang.

“Dit spreek boekdele.”

Jantjies sê ’n reusetaak rus nou op sy skouers en hy weet hierdie posisie het nie sommer net in sy skoot geval nie.

“Die eer kom die Here toe en dit was voorts die harde werk, saamstaan en stemme van die snelgroeiende CSPRM, ook hier aan die Weskus en tot aan die uithoeke van ons land en Namibië, wat die knoop deurgehak het,” voeg hy by.. Vir lidmaatskap van die CSPRM en verdere navrae, kontak Davids by 082 377 1205 of die Wes-Kaap sekretaris, Allan Dreyden, by 084 580 6450.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article