Die Weskusser Anja Kotze sê sy werk hard om eendag ’n boervrou te word, en met haar onlangse prestasies blyk dit sy is goed op pad om hierdie doelstelling te bewaarheid.
Anja (21) is een van die topstudente van die Elsenburg-landbou-opleidingsinstituut en het onlangs haar Baccalaureus-graad in landbou cum laude verower. Haar werk met wol laat haar tussen die 170 studente wat gegradueer het, uitstaan.
“Vandag word julle lede van daardie roemryke groep studente wat hulself alumni van die Elsenburg-landbou-opleidingsinstituut kan noem,” het die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, by die gradeplegtigheid, wat Saterdag 3 Desember in Stellenbosch gehou is, gesê.
Anja is saam met Mathys Bester en Micaela Dale met dux-pryse vereer.
Die Weskusser was die toppresteerder in die B. Agric-program. Sy het ook die Nasionale Wolkwekersvereniging-prys in wolproduksie en die Wes-Kaapse tak van die Suid-Afrikaanse Veeartsenyvereniging-pryse vir beste student in dieregesondheid vir beide kleinvee en grootvee ontvang.
Anja het in 2019 aan die Hoërskool Hopefield matrikuleer.
“Ek is reeds van ’n jong ouderdom aan landbou blootgestel. Ek het ’n groot liefde vir diere, hul gesondheid en die buitelewe,” het sy aan Weslander vertel.
Danksy besoeke aan haar oom Charl in Vanrhynsdorp, wat daar met rooibos, rosyntjies en koring boer, is die saadjie van boer word by dié meisie van die Weskus geplant.
Haar wenresep vir akademiese sukses is om geloof te hê en tyd voor die boeke deur te bring.
“Sonder die krag en genade van Hom kon ek nie sukses behaal het nie. Dit verg opoffering,” sê sy.
Die minister het al die gegradueerdes aangemoedig om ook hul ouers en voogde vir hul hulp te bedank.
“Ons moet dankbaarheid teenoor ons ouers uitspreek vir hul opoffering, aanmoediging, inspirasie, motivering en dat hulle nooit vertroue verloor het in hul kinders se vermoë om sukses te behaal nie. [Saterdag] se gradeplegtigheid bevestig dat dit alles die moeite werd was,” sê hy.
Anja se ma, Yolanda Kotze, was juis so ’n getroue ondersteuner.
“Ons is ongelooflik trots op haar. Ek het geweet die Here het groot planne vir haar,” sê sy.
Anja het vandeesweek by Unifrutti Matroozefontein in Piketberg begin werk.
“Hier het ek die geleentheid om aan die vrugte-kant van landbou te werk. Dit is ’n geleentheid om my kennis te verbreed.”
Sy sê haar plan is om uiteindelik ’n boervrou te word. “Dis nou ’n vrou wat boer – met skape, in hierdie geval – en nie dié wat bloot met ’n boer trou nie,” skerts sy.





