Die balle het onlangs behoorlik die praatwerk gedoen toe die Weskus-streek se vrouespan na die SA Nasionale Potspelkampioenskap deurgedring het.
Die vroue van die Weskus-span, wat vroeër vanjaar gekies is, was deel van die spelers wat onlangs aan die nasionale kampioenskap in Saldanha deelgeneem het. Dié kompetisie het tussen Saterdag 4 en Vrydag 10 Junie by die White City- veeldoelige sentrum plaasgevind.
Die plaaslike vrouespan het in die 2019-kampioenskap die negende plek ingeneem nadat die Weskus-streek die eerste keer in 14 jaar ’n vrouespan gestuur het. Die vroue het hard gewerk en lank voorberei vir vanjaar se kampioenskap met die doel om hul prestasie te verbeter.
Die vrouespan het die eerste keer in die Weskus-streek se geskiedenis die eindronde gehaal. Die spel was baie lekker en mededingend en die vroue het hulself goed gehandhaaf en uitstekende uitslae as naaswenners in die kampioenskap behaal, sê die bestuur van Weskus-potspel.
Die plaaslike spelers wens die vroue alle sterkte toe vir hul volgende kompetisie.
Hulle bedank ook graag hul borge: Bekker-plaasprodukte, DRS Credit Councelling, Body Fuel Express, The Works West Coast, Peninsula Beverages sowel as Drien’s Ice Creams.





