Die Weskus het onlangs twee maatskaplike werkers ryker geraak danksy Badisa Weskus wat nuwe aanstellings gemaak het. Weslander het meer uitgevind oor dié twee nuwe maatskaplike werkers en wat hulle na die beroep gelei het.
Badisa Weskus is ’n program van Badisa, ’n openbare welsynorganisasie sonder winsbejag, wat dienste in die provinsie verskaf. Dit word gedoen in vennootskap met verskeie belanghebbendes, insluitend plaaslike en provinsiale regering, die korporatiewe sektor en ander organisasies sonder winsbejag.
Althea Merle Williams is die maatskaplike werker verantwoordelik vir pleegsorgtoesig- en gesinsherenigingsdienste.
“Ek is oorspronklik van Ravensmead. Ek het as maatskaplike werker by die Christelike Maatskaplike Diens in Newcastle, KwaZulu-Natal en Badisa Koue-Bokkeveld gewerk,” vertel sy.
Williams het op Maandag 20 Februarie amptelik by Badisa Weskus aangesluit.
Haar kollega, Crystal Anthony, is oorspronklik van Kaapstad en met ’n Noordwes-draai het sy na die Weskus gekom.
“My gesin het na Noordwes verhuis toe ek 10 jaar oud was. Ek het grootgeword in ’n klein dorpie met die naam Vryburg. Ek glo dat God my na Vredenburg, spesifiek na Badisa, gelei het sodat ek Hom kan aanhou dien.
“Ek het nog altyd ’n passie gehad om ander te help en die liefde van God met hulle te deel. My pos by Badisa Weskus is as maatskaplike werker verantwoordelik vir bemiddeling en risiko-evaluering,” vertel Williams.
Die twee sê hulle glo hulle is deur hul beroep gekies en nie andersom nie.
“Ek glo dat God my geroep het na maatskaplike werk omdat Hy wil hê ek moet ’n verskil in mense se lewe maak en om ander toe te rus om ’n positiewe verandering te maak. Om in ’n gemeenskap groot te word waar baie uitdagings in die gesig gestaar is, het my beïnvloed om deel van die oplossing te word.
“Ek wou teruggee aan die gemeenskappe wat benadeel is en emosionele, sosiale, fisieke en ekonomiese behoeftes gehad het waarin hulle nie op hul eie kon voorsien nie. Ek wou mense bemagtig sodat hulle sal weet en glo dat hul omstandighede hulle nie definieer nie en dat hulle kan uitstyg bo enige uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word,” sê Anthony.
Williams sê vir haar is haar werk beslis ook ’n hartsaak.
“Die rede hoekom ek maatskaplike werk as my loopbaan gekies het, is omdat ek graag mense wil help en tot diens van die gemeenskap wil wees. Ek het ’n sagte plek vir weerlose mense, veral kinders en bejaardes.”
Albei verduidelik hulle is gereed vir die werk wat hul poste vereis, veral hier aan die Weskus waar verskeie sosiale en maatskaplike uitdagings die gemeenskap in die gesig staar.
“Ek sien uit daarna om by te dra om te verseker dat kinders beskerm en veilig is. Ek is baie opgewonde om in hierdie gemeenskap te begin dien en ek is dankbaar dat ek die geleentheid gekry het om deel te vorm van hierdie wonderlike organisasie wat so hard werk om te verseker dat kinders se lewe positief getransformeer word,” sê Anthony.
Volgens Williams is sy gereed om haar moue op te rol in die gemeenskap en saam ’n verskil in kinders se lewe te maak.
Weslander het die twee gevra watter advies hulle aan ander sou gee wat ’n werk in die maatskaplike sektor wil aanpak. Williams meen enigeen wat ’n maatskaplike werker wil word, moet weet dit is beslis ’n roeping.
“Daar is baie uitdagings in die beroep, maar as ons almal saam as ’n span werk, kan ons groot dinge verrig,” sê sy.
Anthony stem saam en verduidelik jy moet oor passie vir die werk beskik.
“Maatskaplike werk kan ’n baie uitdagende veld wees, soos enige ander, maar as dit jou passie is, sal elke dag ’n dag vol doelgerigtheid wees. Moet ook nooit die belangrikheid van selfversorging onderskat nie.”
. Vir meer oor Badisa Weskus en die werk wat die span doen, besoek www.badisawestcoast.org.za



