Die Weskus het ‘n feestelike begin van 2026 beleef met die aankoms van 19 nuwe lewens in openbare gesondheidsfasiliteite gedurende die groot feesdae. Op Kersdag 2025 is 10 babas in die streek gebore – ses mei- sies en vier seuns – terwyl op Nuwejaarsdag aan nege die lewe geskenk is – vier meisies en vyf seuns.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het reg oor die provinsie altesaam 171 babas op Kersdag en 132 babas op Nuwejaarsdag in openbare gesondheidsfasiliteite verwelkom.
Mireille Wenger, die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, sê die eerste babas van die jaar herinner almal aan die waarde van ‘n gesonde begin.
“Ons word daaraan herinner dat die vroegste oomblikke van die lewe alles vorm wat volg. In die Weskus fokus ons daarop om elke kind ‘n sterk en gesonde begin te gee deur middel van gehaltesorg, ondersteuning en bekwame gesondheidsorgspanne. Wanneer ons vroeg belê, help ons kinders om te groei, te ontwikkel en tot ver in die toekoms te floreer,” sê Wenger.





