Elton Lesch, bekend as Die Khoiman, stel sy nuwe produksie My kom vandaan, bekend.
Lesch het al ses vertonings in die Weskus aangebied en wil nog meer aanbied.
Elke vertoning het ’n verskillende tema, maar die fokus is op die Weskus van jare gelede en sy oorspronklikheid en egtheid.
Lesch deel meer oor waar hy vandaan kom en die unieke woorde wat die vissermanne in die Weskus gebruik. “Baie mense is nuut in die Weskus en kon nie die Weskus van destyds beleef nie en plaaslike inwoners het al daarvan vergeet. Ek laat hulle weer onthou,” vertel Lesch.
Hy maak gebruik van gedigte op sy eie unieke manier.
Hy maak ook gebruik van ander plaaslike digters wat die verhoog met hom deel. Lesch sê hy kry net goeie terugvoering van mense wat graag deel dat sy vertellings hulle aangryp.
Lesch glo dat die mense al die vertonings geniet omdat dit hulle terugneem na die verlede en die goeie herinneringe. Nuwe inwoners aan die Weskus word ook blootgestel aan hoe die Weskus was.
Daar is nog nie ’n vaste datum vir sy volgende vertoning nie, maar mense kan sy Facebookblad dophou vir komende optredes.





