Etlike Weskus-onderwysers het geskitter in die distriksafdeling van die 2024 nasionale onderwystoekennings.
Die toekenningsgeleentheid is Vrydag 12 Julie in Riebeek-Kasteel gehou. Bernice van Blerk van die Hoërskool Vredenburg is as die distrikswenner in die kategorie vir uitnemendheid in fisiese wetenskap aangewys en Simoné Dreyer, ook van die Hoërskool Vredenburg, is as die naaswenner in die kategorie vir uitnemendheid in sekondêre onderrig aangewys.
Van Blerk sê die nominasie was nie iets wat sy verwag het nie en sy voel senuweeagtig oor die volgende ronde wat voorlê. “Ek voel bevoorreg en geëerd dat ek my skool kan verteenwoordig in hierdie geleentheid wat oor my pad gekom het.”
Volgens Dreyer is sy geëerd en dankbaar oor die benoeming. “Dit is ’n groot eer om erkenning te kry vir my toewyding in onderwys. Ek het dit glad nie verwag nie, maar is dankbaar om my leerders ook te kan inspireer om groot hoogtes te bereik.”
Liezel Reynolds van die Hoërskool Hopefield is aangewys as die distrikswenner in die kategorie vir uitnemendheid in sekondêre onderrig. Sy vertel dat dit heel onverwags was.
“Ek het nie die afgelope jaar spesifiek gewerk om genomineer te word nie en het glad nie eens regtig geweet waaroor die toekennings gaan nie. My vakadviseur het my ’n paar weke gelede ingelig dat sy my genomineer het vir die hoërskool-afdeling. Dit is vir seker ’n eer om genomineer te word, wat nog te sê om die afdeling te wen. ’n Mens kyk vir seker anders na jou taak en dit skep meer energie vir jou taak in die toekoms,” sê Reynolds.
In die kategorie vir uitnemendheid in spesialebehoeftes-onderrig is Sherwin Farmer van Karitas Spesiale Skool in Vredenburg aangewys as die wenner vir die Weskus-distrik. “Ek voel baie dankbaar, geseënd en verbaas. Die mense uit wie se hande ek kom se hulp, ondersteuning en leiding oor die jare was duidelik vir ’n doel. Dit is absoluut ’n eer om hierdie nominasie te ontvang, asook die benoeming. Ek het dit glad nie verwag nie, want volgens my is daar baie uitstekende onderwysers na wie ek opkyk in hierdie benoeming. Maar toe ek die nominasie ontvang, moes ek my kant bring en my beste gee, want hulle vertrou ek sal die regte ding doen asook my beste gee.”
Jean Jacobs van die Laerskool Saldanha is die wenner in die kategorie vir uitnemendheid in natuurwetenskap-onderrig. “Ek is werklik geëerd om ’n toekenning van enige soort te ontvang vir die werk wat ons doen. As opvoeders doen ons nie hierdie vir erkenning nie, maar eerder vir die liefde daarvan.
“Enige verskil wat ek kan maak in ’n kind se lewe is vir my genoeg. Maar om op so ’n manier erken te word deur my kollegas is iets wat ek altyd na aan die hart sal dra.”
Van Blerk meen onderwysers speel regtig ’n groot rol in die samelewing.
. Celeste Arendse, die visuele-kuns-onderwyseres van Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury, is by vanjaar se distrikstoekenningsgeleentheid van die nasionale onderwystoekennings vir haar bydrae tot onderwys in geheel, maar ook vir die rol wat sy binne die onderwys en die gemeenskap vervul, vereer. Arendse is as die distrikswenner in die afdeling beste onderwyser aangewys.
Micheal de Kock, Deidre Marais en Mcwarren Harmse, onderwysers by Liebenberg Primêr in Malmesbury, is as volg vereer: Marais is as die distrikswenner in die afdeling vir uitnemendheid in tegnologie aangewys. De Kock het die distrikstoekenning vir sy uitnemende werk in die onderrig van natuurwetenskap ontvang, terwyl Harmse op sy beurt met ’n tweede plek in die afdeling vir uitnemendheid in primêre skool-onderrig beloon is.
Rykie Cullinan van die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg is as tweede naaswenner in die kategorie vir uitnemendheid in sekondêre onderrig aangewys.
Sy dring ook deur na die provinsiale toekennings wat later sal plaasvind.
. Al die distrikswenners dring deur na die provinsiale prysuitdeling, wat binnekort plaasvind.





