Die Weskus-netbalfederasie het Saterdag (15 Oktober) sy beker-uitdeling in die Riviera-hotel aan die Bergrivier gehou.
Die spoggeleentheid is deur die federasie se jaarvergadering voorafgegaan.
Madelein Horn, die president van die federasie, het haar bestuur bedank vir hul goeie werk die afgelope jaar asook die beamptes en die spelers wat alles moontlik gemaak het. Sy het ook toekomstige netbalspanne genooi om by die federasie aan te sluit.
’n Trotse Horn het ook Marchelle Maroen, Inge Theron en Nadene Scherman lof toegeswaai en gespog dat die Weskus-netbalfederasie drie lede in die Stings, die Wes-Kaap provinsiale span, het.
Hanchen Mouton is bedank vir haar harde werk die afgelope sowat 30 jaar by die federasie.
Die beste doelwagters, senters en verdedigers van elke liga is ook vir hul prestasies die afgelope seisoen vereer.
Die netbalfederasie se sportvrou van die jaar is ook gekroon – Beulen Lazarus het met dié prys weggestap.
Die liga-wenners van die afgelope netbal-jaar is:
Liga A1 – Malmesbury A
Liga A2 – Darling A
Liga B1 – Diaz Leeds A
Liga B2 – Malmesbury B
Liga C1 – Van Rhynsdorp
Liga C2 – Good Hopes
Liga D – Langebaan C.




