Om iemand soos Paul Pretorius (47), president van Megaforce Weskus, in jou nabye vriendekring te kon hê, is om te weet hoe dit voel om iemand te hê “who’s got your back”.
Sy nessie vir mense was net so groot soos sy hart – altyd plek vir nog enetjie, hetsy jy nou ’n afvlerkvoëltjie, ’n jong arend, ’n grys kraanvoël of ’n beneukte eendjie was. Hy het jou teen sy bors gedruk en met sagte oë na jou foute gekyk.
’n Motorfietsklub is maar soos enige familie. Daar is soms maar persoonlikheidsverskille of verskillende menings, maar Paul het dit met ’n sagte stem en ’n ferm hand bestuur.
As nuwe lid is jy goed deurgekyk. Jy kon voel jy word opgeweeg, maar as hy jou eers aanvaar het, was jou plekkie in sy nessie geboek; jou blokkie op sy moskombersie ingewerk.
Megaforce Weskus word nou deur verandering in die gesig gestaar, want die bastion om wie die klub se bedrywighede gedraai het, is weggeruk.
Mense se knieruk-reaksie ná so ’n geweldige verlies is om onmiddellik die risiko verbonde aan motorfietsry die skuld te gee, want “jou kanse is net soveel minder op ’n bike . . .”
Sonder om enigsins die risiko verbonde aan motorfietsry te minimaliseer, moet dit egter in konteks beskou word. Dit is ook gevaarlik om vinniger as 140 km/h in ’n motor te ry, want soos ’n goeie vriendin altyd sê: dan ry jy onder die engele uit.
As verslaggewer moes ek deur die jare langs verskeie motorwrakke staan met insittendes wat geen kans op oorlewing gehad het nie, al was hulle in ’n motor en al het hulle sitplekgordels gedra.
“It’s those afraid of dying, that never learn to live,” sing Bette Midler in haar liedjie “The Rose”.
As mense in absolute vrees gaan leef, sal niemand meer die wêreld se gevaarlikste sport, basis-spring (base jumping), doen nie. Niemand sal ooit fietsry nie, want saam met draf langs die pad is dit die tweede en derde gevaarlikste sportsoorte ter wêreld. Die rede? Die groot hoeveelheid fietsryers en drawwers wat deur motors raakgery en beseer of gedood word.
In Suid-Afrika word sportsoorte soos sandplankry, witwatervlotvaart, rotsklim, haaihok- en grotduik en rekspring beoefen. Dié sportsoorte hou almal die gevaar van noodlottige ongelukke in, ten spyte van die ononderhandelbare dra van beskermende toerusting soos valhelms, beskermende klere en stewels.
Die gevoel van vryheid en ’n verbintenis met die oop pad is wat mense laat aanhou om motorfiets te ry. En ja, daar is die opwinding ook.
Wat motorfietsry nog meer spesiaal maak, is die hegte verbintenis tussen motorfietsryers – die gevoel van gemeenskap. As almal bymekaar is, maak dit nie saak waar jy werk of hoe groot jou huis is nie – almal deel die liefde van ry op ’n ysterperd.
Motorfietsryers groet mekaar elke keer met ’n stywe druk, want ’n mens weet nooit wanneer dit die laaste keer gaan wees nie.
Maar, is dit nie so met elke vriend wat jy in die verbyloop in die supermark sien nie?
Ek hoor soveel keer mense sê: “Ek kan nie glo so-en-so is oorlede nie, want ek het hulle nog gister gesien . . .”
Moet almal nie maar die motorfietsryers se gewoonte aanleer om die mense na aan hulle elke keer te groet asof dit die laaste keer is nie?
Die leemte wat Paul Pretorius in sy vrou en kinders, sy familie en sy klublede se lewe agterlaat, is pynlik groot.
Elkeen van ons by Megaforce Weskus het ’n hegte, diepe vriendskap met hom gehad. Hy was ’n pa-figuur, ’n broer en ’n mentor vir ons almal.
Ek gaan jou mis, Paul.
Nou’s jy die engel wat oor ons skouers op die oop pad gaan loer.





