Trane van blydskap en opgewondenheid het gewis onder verlede jaar se matriekleerders gerol.
Die klas van 2021 het hul matriekuitslae Vrydag 21 Januarie by hul onderskeie skole in die Weskus ontvang. Die Wes-Kaapse slaagsyfer vir 2021 is tans 81,2%, wat met 1,3% sedert 2020 se 79,9% gestyg het.
Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwys-departement bevestig dat die Weskus het ’n slaagsyfer van 80,7% behaal – ’n effense afname teenoor 2020.
Die koms van die pandemie het die akademiestelsel ’n knou gegee en veranderinge en onsekerheid onder leerders gebring, wat hulle moes hanteer.
André Truter, die burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit, sê ten spyte van die uitdagings wat hulle ervaar het, is hy baie trots op die klas van 2021. “Die matrieks het goed gevaar en is deur ’n moeilike twee jaar. Graad 11 (-punte) dra by tot die uitslae van die jaar en hulle moes sielkundig en geestelik daardeur kom,” vertel Truter.
Verskeie skoolhoofde het hul mening oor hul skole se matriekuitslae gedeel.
Wehan Fourie, die hoof van Hoërskool Hopefield, het aan Weslander vertel hy is bitter trots op hul uitslae. “Ons is trots op ’n 100%-slaagsyfer, vyf gemiddelde A-simbole, 25 gemiddelde B-simbole en 88% van ons matrieks wat met universiteitstoelating geslaag het,” voeg hy by.
“Baie geluk aan elkeen van hierdie matrieks wat met tipiese Hopefield-guts die afgelope twee jaar se struikelblokke en uitdagings oorkom het.”
Ian van der Linde, een van die toppresteerders van die Hoërskool Hopefield, sê hy is eintlik verbaas oor sy uitslae. “Ek het positief gevoel ná die eksamen, maar nooit verwag dit gaan só eindig nie.”
Micaela van der Walt van die Hoërskool Vredenburg het met ’n A-gemiddelde van 91,7% geslaag en is baie dankbaar en trots op wat sy behaal het.
Die Hoërskool Louwville pronk ook met ’n A-kandidaat, Sinokuhle Dumalisile, en is vreeslik trots op die hele groep. Emile Petrus, die hoof, stem saam dat dit ’n moeilike jaar vir die leerders was en sê hulle “moet altyd onthou dat die onderwysers se deure oopstaan om te enigertyd te help”.
Truter voeg by die deursettingsvermoë en die vermoë om in die moeilike tye aan te pas, spreek boekdele oor die jeug.
“Ons salueer julle,” sê Truter.





