“Die heel eerste Weskus-kuierkonsert was ’n reusagtige sukses.”
Só sê Steyn en Luriena Fourie, die organiseerders.
Die makietie is Saterdag (2 April) by die Laaiplek-hotel in Velddrif gehou waar bekende kunstenaars op die verhoog was, soos Elizma Theron, Jakkie Louw, Pieter Smith en die musiekgroep The Banned.
Volgens Steyn het alles goed verloop. Hy sê dit was wonderlik om saam met mense te werk met wie hy goeie verhoudings opgebou het, wat gewis tot die sukses van die dag bygedra het. “Die kinders het die aktiwiteite geniet en die grootmense het die lekker musiek geniet,” vertel hy.
Steyn sê hy het ook goeie terugvoer ontvang van besoekers wat die dag geniet het. “Ons het goeie ondersteuning van mense in die Weskus en van elders gekry.”
Hy sê die konsert lok mense na die dorp en sodoende bevorder dit ook toerisme aangesien geld by sakeondernemings in die dorp bestee word. Hulle beplan om hierdie konsert ’n jaarlikse instelling te maak.
Die Fourie’s bedank die Laaiplek-hotel en elke borg vir almal se bydraes vir die saamtrek.


