Draf hierdie maand Langebaan kaf en jy kan dalk ’n paar rand in die sak steek.

Die Langebaan-atletiekklub bied die eerste keer die Weskus-straatmylreeks in sy tuisdorp aan. Dit volg die formaat van die Eden Street Mile-reeks, verduidelik Christopher Rodgers, die organiseerder van die wedloop

Hy sê vir eers sal die geleentheid slegs in Langebaan plaasvind met die oog om volgende jaar na ander dorpe uit te brei.

“Die reeks bestaan uit vyf wedlope, waarvan die wenners ná die vyfde wedloop aangekondig word. Die reeks het die potensiaal om groot te raak,” meen hy.

Atlete van 9 tot 70 jaar en ouer sal die kans hê om vir die prysgeld van R33 000 mee te ding.

Die afdelings is o.9 tot o.18 en o.20 vir die juniors, en senior atlete sal in die afdelings 40 jaar en ouer, 50 jaar en ouer, 60 jaar en ouer en 70 jaar en ouer deelneem.

Die skool wat die meeste atlete inskryf, sal ook R3 000 ryker wees.

’n Trofee vir die top-klub is ook op die spel. Die eerste wedloop is Saterdag 29 April en die res sal op 27 Mei en 10 Junie plaasvind, met die laaste wedloop ook op 17 Junie.

Die kampioen sal ná dié wedloop gekroon word. Rodgers meen buiten die aanwins wat die wedloop vir die Weskus se atletiek-gemeenskap kan word, is dit ook ’n gulde geleentheid om die plaaslike toerismebedryf ’n hupstoot te gee.. Kontak Rodgers by 073 232 0046 of stuur ’n e-pos na chrodgers1@gmail.com vir nog inligting oor die reeks en om betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article