Die gewone mens begin al hoe meer voel asof onsigbare boelies van alle kante af druk. Of dit nou gaan oor stygende kos- en brandstofpryse, oorvol vragmotors wat wetteloos deur klein dorpies jaag, of oor die natuurskoon van die Weskus wat links en regs ter wille van wins vernietig word – dit maak nie saak nie.
Hoewel die druk om te oorleef al groter raak, kan ons egter nie net op korttermynbehoeftes konsentreer nie.
Elke jaar stap ’n nuwe groep gr. 1-leerders klaskamers binne en oor twee dekades stap hul kinders dieselfde paadjie skool toe. Daarom moet ons kyk na die wêreld – en die Weskus – wat ons vir hulle nalaat.
’n Reusemyngroep is vir eers in sy spore gestuit om verder die strand naby Doringbaai vir diamante om te dolwe. Dit is maar een van ’n string mynbouregte wat die afgelope twee dekades aan maatskappye, wat meestal nie eens aan plaaslike of Wes-Kaapse rolspelers behoort nie, gegee is.
’n Provinsiale minister noem so terloops aan ’n gehoor in Velddrif dat een só ’n nyweraar “terg” oor die 300 jaar wat dit gaan neem om die Olifantsriviermond-gebied te rehabiliteer . . . dan is almal wat hier lees, reeds dood.
Ons sal moet hande vat met drukgroepe en vissersgemeenskappe wat nog probeer om in die Weskus te red wat nog te redde is.



