Te danke aan die vrygewige sakesektor en gemeenskap kan Weskus Helpers sy deure oophou.
Weslander het vroeg in Februarie oor dié liefdadigheidsorganisasie, geleë in Stephanstraat, Vredenburg, se finansiële nood berig. Op daardie tydstip was die organisasie, wat sedert 2015 die minderbevoorregte gemeenskap van Vredenburg dien, al twee maande agter met sy huurgeld. As dringende finansiële ingryping nie gou gekom het nie, sou die organisasie sy deure noodgedwonge teen die einde van Februarie moes sluit.
Kosskenkings vir die sopkombuis en skenkings aan die liefdadigheidswinkel, wat help om ’n inkomste vir Weskus Helpers te genereer, het ook sedert Maart 2021 opmerklik begin opdroog.
Jenny Moors, die stigter van die organisasie, het in Februarie aan Weslander gesê “net ’n wonderwerk kan Weskus Helpers nou red”.
En sowaar! Daar gebeur die onmoontlike toe ná maande se gebed en “ook vanweë die berig in Weslander”, het ’n dankbare Moors vandeesweek vertel nadat Weskus Helpers sedertdien hulp met sy agterstallige huurgeld gekry het. ’n Groot besending gesigmaskers is geskenk en die liefdadigheidswinkel is weer vol nadat die gemeenskap bokse vol klere en huisware aangedra het.
Die Caltex-vulstasie in Vredenburg het onder meer R10 000 en ’n rolstoel aan die organisasie geskenk.
“Ons het nog nood en die huurgeld sal voortdurend ’n uitdaging bly, maar ons kan aangaan. Ons het weer hoop. God het voorsien,” het Moors gesê.
Volgens Moors bestaan ’n groot behoefte aan komberse en beddegoed in die minderbevoorregte gemeenskap.
“Almal wat na die winkel kom, soek komberse, en dis nie iets wat ons eintlik in voorraad het nie,” het sy gesê.
Enigeen wat belangstel om nuwe of tweedehandse beddegoed wat nog in ’n bruikbare toestand is aan Weskus Helpers te skenk, kan dit na hul perseel in Stephanstraat bring.
Weskus Helpers het ook ’n behoefte aan kombuisware, eetgerei, borde en bekers en
die weeklikse skenking van kos en bestanddele vir die sopkombuis is noodsaaklik sodat dié diens aan behoeftiges voortgesit kan word.
“Onthou, die mense wat hier kom koop, het regtig niks in hul huis nie en betaal R3, R5 of R10 vir ’n produk. Moenie jou skenking onderskat nie.”
Moors bedank almal wat in hierdie moeilike tyd hul beursies en harte oopgemaak het om Weskus Helpers by te staan.





