Weskussers in Saldanhabaai en die Bergrivier weet dit dalk nie, maar hulle woon in ’n biosfeerreservaat.
Die eerste amptelike biosfeerreservaatdag is Donderdag 3 November by die Kaapse Weskus-biosfeerreservaat se kantoor in Vredenburg gevier. Die span van die biosfeerreservaat het by hul kantore, die ou stasiegebou in Hoofstraat, saam met ondersteuners en vennote byeengekom om die dag te vier.
Die biosfeerreservaat strek van Dieprivier in Kaapstad tot by die Bergrivier en beslaan 378 000 hektaar kusvlaktes.
Volgens Sharon February, die voorsitter van die biosfeerreservaat, is die Weskus ’n gewilde en gesogte biodiverse streek met veral internasionale studente wat praktiese omgewingstudies hier kom voltooi.
Gerhard Gerber, die departementshoof van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, was die hoofspreker by die geleentheid.
Gerber meen die dag was nie net ’n viering van die plaaslike reservaat nie, maar ook vir al die biosfeerreservate wat die afgelope vyf dekades gestig is.
“Ons in die Wes-Kaap is gelukkig, want vyf van die 10 biosfeerreservate in die land is in ons provinsie. Nog gelukkiger is diegene in die Weskus, wat binne die Kaapse Weskus-biosfeerreservaat woon en leef.
“Hier, meer as in enige ander plek, kry ons die resep vir ’n biosfeerreservaat reg. Dit is nie perfek nie, maar danksy goeie verhoudings word ontwikkeling saam met bewaring gedoen. Die twee kan nie sonder mekaar nie; ekologie gaan hand aan hand met sosiale en ekonomiese ontwikkeling,” sê Gerber.
Die Kaapse Weskus-biosfeerreservaat se fokus is om opvoeding oor omgewingsake te bied.
Terence Coller van CapeNature, een van die biosfeerreservaat se vennote, het die belangrikheid van die bewaring as werkskepper en ekonomiese dryfveer uitgelig.
“Mense kan nie bewaring eet nie, maar bewaring hou voordele vir almal in en beteken ons kan iets agterlaat vir dié wat ná ons kom,” sê Coller.. Besoek die webblad https://cwcbr.co.za vir inligting oor die Kaapse Weskus-biosfeerreservaat.





