Die toerismebedryf is en bly een van die grootste ekonomiese drywers van die land asook vir die Weskus-streek.
Die Weskus, met ’n kuslyn van meer as 400 km, is steeds een van die gewildste toeristebestemmings in Suid-Afrika en ’n gunstelingbestemming vir plaaslike en internasionale besoekers.
Die Weskus is danksy sy unieke erfenis en kultuur, ongerepte omgewing, wye oop ruimtes en uitstekende toerisme-infrastruktuur enig in sy soort.
Hoewel die toerismesektor die afgelope twee jaar weens die Covid-19-inperking groot verliese gely het, is die sektor stadig maar seker besig om te herstel.
Om die herstel van die sektor aan te help, fasiliteer en koördineer Weskus Toerisme verskeie toerismebemarkingsintervensies.
Weskus Toerisme, in samewerking met die Saldanhabaai-munisipaliteit, Yzerfontein Akkommodasie, Oppikaai Restaurant en West Coast Distillers, het van 2 tot 6 November die Namibiese toerisme-ekspo bygewoon om die wonderlike streek en alles wat dit bied, te bemark. Behalwe om inligting oor die streek te deel, het hul uitstallingsruimte ’n bronsmedalje by die ekspo gewen en Weskus Toerisme het goeie dekking in die Namibiese media ontvang.
Volgens Gurshell Abrahams, die bestuurder van Weskus Toerisme, is goeie vennootskappe in die toerismebedryf baie belangrik.
“Die Kaap-Namibiese roete het oor die jare baie bygedra tot die groei van toerisme in die streek. Omdat ons ons lieflike dorpe so goed bemark, het al hoe meer mense van die N7-hoofweg af begin afdraai om die unieke aanbiedings in die Weskus te ervaar.
“Ons koester ons vennootskappe met Kaapstad Toerisme, Noord-Kaap Toerisme en Namibië Toerisme omdat ons weet wat goeie vennootskappe tussen hierdie streke vir toerisme in die Weskus beteken,” het Gurshell gesê.




