Bevin en Jill van Stray tydens ’n natuurverkenningstoer in die Weskus. Bo verfilm hulle ’n deel van hul toer by !Khwa ttu in die Swartland-gebied.


Die Weskus met sy onberispe­like natuurskoon word stadigaan ’n baie gewilde keuse vir die rolprent- en mediabedryf.

Hierdie bedryf is ’n massiewe katalisator vir ekonomiese groei en skep ’n goeie geleentheid om die streek te bemark.

By ’n werksessie wat gefokus het op rolprent- en mediabestemmings het die mediaskakelbeampte van Weskus-distriksmunisipaliteit, Heinrich Robertson, ’n aanbieding gedoen oor hoekom die Weskusstreek ’n goeie rolprentbestemming is.

Die feit dat die Weskus-distrik aan die Stad Kaapstad grens, dra verder by tot sy groeiende gewildheid in die rolprent- en mediasektor.

Volgens Robertson het die Weskus alles. “Diverse natuur­skoon vir televisieadvertensies, buitelugrestaurante en wynplase waar kookprogramme verfilm kan word en die wye oop ruimtes vir aksie- en avontuur­tonele.” Robertson voeg by die samewerking tussen die distriksmunisipaliteit, plaaslike munisipaliteite en die toerismesektore is baie belangrik om sodoende navrae van die bedryf na die relevante rolspelers te verwys met die wete dat die navraag vinnig en met minimale vertraging beantwoord kan word. “Hierdie bedryf is tydsgebonde en tyd is geld.”

Van die mees onlangse rolprente wat in die Weskus geskiet is, sluit in ’n werklik­heidsprogram deur ’n Belgiese rolprentmaatskappy wat in die Cederberg-omgewing verfilm is. Daar is ook groot belangstelling in van die buitelugrestaurante aan die kus, terwyl die Swart­land-streek die aandag getrek het van verken­ners wat op soek was na tonele wat woestyn- en landboutonele naboots.. Weskussers kan juis die naweek voor die kassie inskuif wanneer die rolprent Die tragiese saak van Pamina Vermaak, wat grotendeels in Velddrif verfilm is, om 20:00 op DStv-kanaal 144 (kykNET) uitgesaai sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article