Die premier was deel van die geselskap wat ’n Wes-Kaapse reddingspan uit Turkye Saterdag (18 Februarie) op die lughawe terug in Suid-Afrika verwelkom het.


“Hulle is helde!”

Alan Winde, die premier van die Wes-Kaap, het die plaaslike reddingspan wat na aardbewing-geteisterde Turkye gereis het om noodsaaklike hulp te gaan verleen, Saterdag (18 Februarie) op die Kaapstadse lughawe verwelkom.

Volgens ’n persverklaring uit die premier se kantoor is die noodverleningspan van die Wes-Kaap deur die Suid-Afrikaanse organisasie Gift of the Givers na Turkye gestuur.

“Ek loof Gift of the Givers vir die werk wat hulle in tye van nood tuis, maar ook in die buiteland, doen. Hierdie vroue en mans wat hul hande opgesteek het om in Turkye te gaan help, maak ons trots. Julle is helde,” het die premier gesê Saterdag op die lughawe gesê waar hy by die konsulaat-generaal van die republiek van Turkye, Sinan Yesildag, aangesluit het.

Winde het te midde van emosionele tonele aan die groep gesê hulle het hul gesinne, die Wes-Kaap en Suid-Afrika trots gemaak deur hul onbaatsugtigheid om behoeftiges in ’n ander land te gaan help.

Een van die hoogtepunte van die Wes-Kaapse noodverleningspan, wat Saterdag na Suid-Afrika teruggekeer het, was hul bystand om ’n bejaarde vrou (80), wat dae lank onder die puin begrawe was, te red.

Teen die publikasietyd van hierdie berig was die dodetal weens die onlangse aardbewings in Turkye reeds ver oor die 40 000 mense.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article