Amptenare van die Bergrivier-munisipaliteit het vandeesmaand met plaaslike sakelui vergader om heelwat inligting met hulle te deel.


Die Bergrivier-munisipaliteit (BM) se departement vir finansies het vandeesmaand inligting-werksessies in Piketberg, Porterville en Velddrif gehou om opkomende mikro-ondernemings te bemagtig om met die munisipaliteit sake te kan doen.

Altesaam 27 plaaslike entrepreneurs het die werksessies bygewoon.

Nelmarie Bothma, bestuurder in die afdeling vir uitgawes en voorsieningskanaalbestuur en die BM se waarnemende finansiële hoof, sê die hoofdoel van hierdie inisiatief is om plaaslike ondernemings te help om nie net sake met die munisipaliteit te doen nie, maar ook om ’n beter begrip te hê van die volledige voorsieningskanaal­bestuurproses.

“Ons wil plaaslike ondernemings bemagtig met alle belangrike inligting oor hul belastingsake en enige navrae oor die voltooiing van formele kwotasies of tenders.

“Ons wil graag hê meer plaaslike ondernemings moet op ons Sentrale Verskaffer-databank registreer.

“Dit is uiters belangrik, aangesien dit die eerste stap is om met die munisipaliteit sake te doen en plaaslike ekonomiese ontwikkeling te verseker.”

Die munisipaliteit het die volgende inligting met die entrepreneurs gedeel: Voorsieningskanaalbestuur- prosesse (van kwotasie tot die bestelvorm). Wetlike vereistes. Hoe om jou onderneming op die munisipaliteit se Sentrale Verskaffer-databank te registreer. Hoe om jou onderneming by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te registreer. Huisbouer-registrasies asook sakeregistrasies.

“Tenders en formele kwotasies is oop vir die publiek, en dus moedig ons alle plaaslike entrepreneurs aan om proaktief te wees en inisiatief te neem om by die munisipaliteit aansoek te doen om sake te kan doen,” het Bothma gesê.

Bel Bothma by 022 913 6065, Elorese Scholtz, (rekenmeester: voorsieningskanaalbestuur) by 022 913 6062, of Revedy Hendricks (administrateur: voorsieningskanaalbestuur) by 022 913 6036 vir nog inligting oor die projek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article