“Ons is moeg vir hoe ons behandel en betaal word,” kla werkers van Huis Wittekruin in Vredenburg.

Werkers van dié tehuis, wat deur Badisa bedryf word, het hul ongelukkigheid oor betalings en hoe hulle in die werkplek behandel word, onlangs bekendgemaak.

Werkers sê hulle word nie betaal vir oortyd nie en kry ook nie dubbelbetaling op Sondae of vakansiedae nie. ’n Werker wat nie haar naam wil noem nie, sê sy werk al jare by die tehuis en hierdie kwessies kom al “vir ’n geruime tyd” aan. “Party mense werk al langer as 20 jaar hier en kry steeds dieselfde salaris. Ander doen dieselfde werk, maar word meer as sommiges betaal.”

Die groep was deel van ’n vakbond vir omtrent drie jaar, maar het besluit om uit die unie te bedank omdat hulle geen resultate kon lewer nie. Die werkers het sedertdien by die South African Domestic Worker’s Union (SADWU) aangesluit om hulle te help.

Volgens John Arends, ’n verteenwoordiger van SADWU en die werkers, is Huis Wittekruin 14 dae gegun om terugvoering oor die werkers se griewe te gee, maar met die vergadering Maandag 14 Maart was niemand namens Huis Wittekruin teenwoordig om terugvoering aan die werkers te gee nie.

“Hierdie griewe is wetgewende punte en werkers moet die korrekte salarisse betaal word. Dit word deur wetgewing voorgeskryf,” sê Arends.

Volgens ’n woordvoerder van Badisa is Huis Wittekruin ’n program van Badisa en deel van die welsynsektor in Suid-Afrika, wat ministeriële vrystelling het (Staatskoerant 22466 van 20 Julie 2001) van sekere bepalings ingevolge die Wet op Basiese Voorwaardes, Wet 75 van 1997, soos oortyd en Sondagwerk. “In ruil vir die vrystelling kry die werkers 30 kalenderdae verlof, wat meer is as wat die wet voorskryf. Die beheerraad van Huis Wittekruin het ook besluit om die werkers te vergoed vir hul werk op openbare vakansie­dae as die vakansiedag in hul skof val,” voeg die woordvoerder by.

Arends sê die wet het sedert 2001 verander en werkers moet korrek vergoed word vir die ure wat hulle werk. “Die werkers het Woensdag 16 Maart weer vergader nadat die bestuur ’n tyd bevestig het. Die polisie is egter ontbied, hoewel ons geen bohaai gemaak het nie.”

Arends voeg by dit is werkers se reg om by ’n vakbond van hul keuse aan te sluit en dat Huis Wittekruin moet oop wees vir gesprekvoering sodat hierdie probleme opgelos kan word.

Die woordvoerder van Badisa voeg by dat alle klagtes ondersoek word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article