Atlete sowel as afrigters en sportadministrateurs van die Weskus het Saterdag (17 September) saam met ander van die provinsie in Pinelands vir die provinsie se sport-prysuitdeling byeengekom.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, het die toppresteerders van die afgelope sportjaar gekroon.
Onder die benoemdes was talle Weskus-sportsterre. Die groot Weskus-wenners van die aand was die Weskus-netbalfederasie, wat as die distriksfederasie van die jaar vereer is.
Marais het die belangrikheid van sport as ’n hulpmiddel om hoop en geleenthede aan die jeug te bring, uitgelig. “Deur veral die jeug geleenthede te bied om aan sport deel te neem, kan ons die sportsterre van môre identifiseer, maar ons kan ons ??jeug ook veilig hou en hulle betekenisvolle verbintenisse ná skoolure bied.
“Die volle terugkeer van sport in die provinsie sal ook ’n belangrike ekonomiese impak meebring, aangesien plekke vir sportbyeenkomste vol toeskouers is en plaaslike verkopers en werksoekers by groot toernooie geleenthede gebied word,” meen Marais.
Onder die plaaslike benoemde atlete was Nicolette Schlehmeyer (vrywilliger van die jaar), Inge Theron (gemeenskapsbouer van die jaar), die Greenlillies-bejaardesklub (rekreasieliggaam van die jaar), Kgati-span (inheemse sportspan) en Nieuwoudt Primêr (ontwikkeling-skoolspan van die jaar). Benoemings vir die Weskus se skolesport-presteerders was die atleet Chris-Mari Nel en die skopbokser Meguel Ocks. Nel is ook as sportvrou van die jaar benoem.
Die ander Weskus-benoemdes was Clive Cupido (fotograaf van die jaar), Angell Pholman (nuweling-atleet van die jaar) en Marchelle Maroun (netbalafrigter) wat as afrigter van die jaar benoem is. Christopher Rodgers (Langebaan-atletiekklub) is benoem as administrateur van die jaar. Weskus 8-potspel se vrouespan is as provinsiale federasie van die jaar benoem, terwyl Maegan Claasen van Weskus-skopboks benoem is vir tegniese uitnemendheid.
Die plaaslike junior sportvrou wat benoem is, was Skeigh-Lee Jenecker, terwyl die atleet Denmar Jacobs as die junior sportman van die jaar benoem is.
Leander Pholman is as sportman met ’n gestremdheid benoem, terwyl die skopbokser Devon Melk as sportman van die jaar benoem is.
Die Wes-Kaap-wenners kom nou vir die nasionale prysuitdeling in aanmerking.




