Motoriste wat feitlik elke dag deur digte mis op Weskuspaaie moet ry, is dit eens dat dit ‘n senutergende rit is, met sigbaarheid wat binne ‘n kwessie van sekondes ernstig kan verswak.
Tog merk Weslander se personeel feitlik daagliks motors op wat in die mis en reën ry sonder dat die ligte aangeskakel is.
Noodpersoneel moet gewoonlik dié tyd van die jaar bontstaan weens ligte en soms ernstige ongelukke wat deur mistige toestande en verminderde sigbaar- heid op die pad veroorsaak is.
Dit veroorsaak ook gereeld dat die paaie versper word terwyl die ongeluks- tonele opgeruim word.
Om veilig in die mis te ry, is selfs vir gesoute Weskussers wat dié tyd van die jaar gewoond is daaraan, ‘n uitdaging.
Met die mis wat sig tot minder as een kilometer, of selfs nog nader, kan verminder, moet motorbestuurders hul bestuursgewoontes verander om by die gure toestande aan te pas.
Arrive Alive meen veral onvoldoende volgafstande en spoed speel die grootste rol in botsings in die mis.
Hulle gee dié wenke:
• Hou die weerstoestande dop voordat jy ry. Indien daar waarskuwings oor verswakte sig is, probeer jou rit uitstel, indien moontlik. Ry uiters versigtig.
• Om in die nag in die mis te ry, is selfs nog moeiliker. Maak seker jou voorruit is behoorlik skoon om te verseker dat dit die beste sig moontlik bied.
• Toets jou misligte vroegtydig.
• Maak seker jy weet hoe om die wasem van jou voorruit af te kry. Maak ‘n syvenster effens oop en draai die warm lug na ‘n hoër spoed.
• Verminder spoed. Maak voorsiening vir genoeg afstand tussen jou voertuig en die voertuig voor jou.
• Vermeerder die minimum veiligheidsgaping van drie sekondes. Dink aan hoe ver jy kan sien en hoe lank dit jou sal neem om te stop.
• Skakel jou ryligte aan. Moenie jou ligte op hul skerpste stel nie, want die helder lig beïnvloed jou visie deur ‘n weerkaatsing van die mis te skep, wat jou sigvermoë belemmer terwyl jy bestuur.
• Moenie jou noodligte aanskakel of kort-kort rem trap nie. Studies wys daarop dat bestuurders agter jou senuweeagtig kan raak en jou probeer verbysteek, wat almal se lewe in gevaar kan stel.
• Wees op die uitkyk vir ander bestuurders wat nie ryligte gebruik nie.
• Gebruik die rand van die pad as ‘n gids – eerder as die stippellyn in die middel – om te verhoed dat jy voor aankomende verkeer beland of deur hul ligte verwar word.
• Moet nooit in die middel van die pad stilhou nie. Gee jou voornemens om stil te hou vroeg te kenne en trek op die skouer af. Probeer jou voertuig heeltemal van die pad af kry. Sodra jy van die pad af is, skakel jou ryligte af en sit jou noodflikkers aan, sodat ander weet jy is daar, maar nie dink jy ry op die pad nie.
• Moenie probeer om ander voertuie in mistige toestande verby te steek nie. Bly kalm en geduldig.
• Verwyder dinge wat jou aandag in jou voertuig aftrek.
• As jy ‘n kruising met beperkte sig moet oorsteek, hou eers stil, draai die venster af en luister vir verkeer. Wanneer jy seker is dit is veilig om die pad oor te steek, doen dit vinnig sodat jy nie in die pad van veral vinnig naderende voertuie beland nie.



