Die span van Steenberg’s Cove-rugbyklub het Saterdag sy eerste kennismaking op die grafkelder in Pella gehad.
Die span van Wayne Bouwers, wat maar in sy tweede seisoen rugby speel, speel hierdie seisoen in die streekuitdaag-reeks van die Boland. Die besoekers, wat die wedstryd 5-40 verloor het nadat hulle rustyd 0-14 agter was, kan egter die kop hoog hou – die tuisspan het gou gewys dat die grafkelder nie net ’n veld is nie en het gou 14-0 voorgeloop.
Met baie wat gedink het dit gaan ’n lang dag vir die besoekers wees, het Bouwers se troepe egter daarna hul ritme gevind. Die span het met byna 70% gebiedsvoordeel en balbesit vir byna ’n halfuur die verdediging van die tuisspan tot die uiterste beproef, maar kon net nie afrond nie. Met hul kamp stewig in die tuisspan se kwartgebied opgeslaan, het die besoekers by tye meer as 20 fases op ’n keer afgedwing, maar die gebrek aan afronding het egter gelol.
Die span het ook planloos en rigtingloos voorgekom, maar die feit dat dit voorseisoenvoorbereiding was, kan as versagtende omstandighede dien.
Niks moet egter van die tuisspan se verdedigingslinie ontneem word nie. Ruben Abels se troepe, wat maar in hul eerste vriendskaplike wedstryd gespeel het, het die besoekers voos geduik.
Young Hearts het nooit gehuiwer om die bal lug te gee nie en die besoekers, wat in die eerste 40 minute goed verdedig het, se stamina het in tweede helfte gefaal. Die tuisspan het die tweede helfte oorheers terwyl die besoekers al stadiger begin beweeg het. Young Hearts het met sy opwindende agterlyn die ondersteuners ’n voorsmakie gegee van wat later in die seisoen wag toe hulle drie verdoelde drieë en een onverdoelde drie ingeryg het.
Die besoekers het gewys hulle het nie ’n gebrek aan veggees nie en het soos ware krygers steeds moedig probeer.
Die span is laat in die wedstryd met ’n onverdoelde drie beloon.
Terwyl afrigters nog met spankeuses en kombinasies vir die seisoen karring, het Abels gesê hy is tevrede met sy span se vertoning, maar erken harde werk lê gewis nog voor.. Ander vriendskaplike uitslae: Paternoster 43-19 Van Rhynsdorp Eagles; Vredenburg 57-14 Delicious Clanwilliam; Saldanha 29-14 Moorreesburg; St. Helena 24-7 Koringberg; Langebaan 40-26 Velddrif.





