Die Weskus-polisie maan inwoners van die Weskus om waaksaam te raak en hul eiendomme en sakepersele te beveilig, want huis- en sakerooftogte het reeds sedert verlede jaar in die distrik toegeneem.

Chuniel Williams (19) het Woensdag 29 Januarie in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hy Dinsdagoggend vir huisroof aangekeer is. Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het Williams na bewering Dinsdagoggend om 01:30 ’n gastehuis in Mosselbank in Paternoster geteiken.

’n Egpaar van Balitobaai in KwaZulu-Natal, wat hier met vakansie was, het nog geslaap toe Williams na bewering die kamer binnegekom het.

Die 73-jarige man het opgestaan, waarop Williams uit die kamer gehardloop het.

Die bejaarde man het hom agtervolg, maar geval.

Williams het die kans gebruik om met verskeie items uit die huis te vlug, maar van die produkte het langs die swembad geval, waaronder ’n lang mes wat Williams saamgebring het.

Net in Lutzville alleen is vyf sake van huisroof die afgelope naweek aangemeld, maar twee mans, Sisa Dungelo (39) en Siminikiwe Thamahane (24), is in verband met vier van die vyf rooftogte in hegtenis geneem.

Vyf rowers het Sondagmiddag 26 Januarie om 16:00 ’n 26-jarige vrou van Mandelakamp in Koekenaap in haar blyplek oorval. Sy is met ’n vuurwapen en ’n mes gedreig, waarna die rowers met R5 300 en haar selfoon gevlug het. Dungelo en Thamahane word met dié huisrooftog verbind en het Woensdag in die landdroshof op aanklag van gewapende roof verskyn.

Omstreeks 16:30, ook in Mandelakamp, het vyf rowers ’n 45-jarige vrou met ’n mes gedreig. Die vrou was in haar blyplek toe die rowers ingekom en R2 700 uit haar beursie gevat en gevlug het. Dungelo en Thamahane het Woensdag (29 Januarie) op aanklag van roof in die landdroshof verskyn.

’n Halfuur later het twee rowers by ’n 31-jarige vrou in Mandelakamp se blyplek ingekom. Die rowers het geld geëis en die klaer met ’n vuurwapen gedreig. Die klaer moes haar selfoon se wagwoordvereiste verwyder terwyl een van die rowers ’n mes teen haar rug gedruk het, voordat hulle gevlug het. Dungelo en Thamahane is hierna ook in verband met dié voorval in hegtenis geneem.

Sondagmiddag omstreeks 13:00 het twee vermeende rowers ’n 48-jarige klaer in sy woning in Roosstraat, Koekenaap, eers vir ’n bier gevra en daarna R800 en die bier gevat en gevlug. Dungelo en Thamahane word ook hiermee verbind.

Sondagnag om 01:00 het ’n 25-jarige vrou van Mbeki Square in Lutzville en ’n getuie aan die slaap geraak toe twee vermeende rowers aan die deur geklop het. Die rowers wou met die klaer praat en het haar deur stukkend geslaan.

Sy is met ’n mes gedreig en die getuie is met ’n baksteen teen die kop geslaan.

Die rowers het met R1 500 en die klaer se selfoon gevlug.

Dungelo en Thamahane word nie met hierdie rooftog verbind nie.

’n Winkeleienaar van Lutzville was Maandagaand (27 Januarie) omstreeks 18:30 in sy winkel in Langstraat besig toe ’n onbekende man ingekom en R200 geëis het. Die winkeleienaar het die man egter net R50 gegee.

Omstreeks 21:00 het die man saam met ’n ander man weer daar aangekom, waarna ’n woordewisseling gevolg het en die winkeleienaar met ’n glas in die gesig gegooi is.

Die twee rowers het agter die toonbank ingegaan en R1 000 en die klaer se selfoon gevat voordat hulle op die vlug geslaan het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article