Die Weskus is vandeesweek geruk deur verskeie moorde.
Die dood van die De Kock’s het nasionale aandag getrek, terwyl Clive “Sarge” Segrys tydens werk koelbloedig afgemaai is. Indien jy nie veilig by jou woning of by die werk is nie, waar is jy dan veilig?
Ten spyte van weeklikse nuus oor die misdaad wat toeneem in die streek, voel vele Weskussers nog relatief veilig in vergeleke met die stede en tog word ons nie gespaar van misdaad nie. Hier is egter ’n ander element wanneer dit by misdaad kom – baie keer is die misdadigers ook Weskussers. Misdaad van skelms wat die gebied besoek en dan steel en moor is in die minderheid. Dit is angswekkend dat die skelms nie vreemdelinge is nie, maar dalk ’n vriend van ’n vriend of iemand met wie jy op skool was.
Soos die polisie gereeld sê, skelms is van die slimste sakelui en van die beste georganiseer. Daarom is dit net ’n gesamentlike poging wat hulle sal uitroei.
Praat uit wanneer jy iets sien. Sien om na mekaar en ander se kinders. Om hande in die sak te staan terwyl daar kwaad gedoen word, is opsigself verkeerd.


