Die jaar staan einde se kant toe.

’n Mens gewaar dit sommer aan die reëlings wat alweer getref word vir jaareindgesellig­hede, die winkels wat al hier van Oktober se koers af hul kersversiersels begin hang het en daai bokse soet-en-sout-eetgoed vir die feestyd wat hierdie jaar sommer ekstra duurder geword het.

Sjoe, daar het inderdaad vanjaar ’n klomp goed in ons land gebeur. Soveel so, dit verplig jou eintlik vriendelik om iewers hier aan die einde van die jaar te dink oor alles wat gebeur het.

Of dit nou goed of sleg was, dis maar altyd ’n nodige oefening sodat jy nie met ’n klomp onnodige bagasie die nuwe jaar tegemoet gaan nie. Voor ons by daardie refleksie- oefening kom, weet ek onomwonde dat ek beslis al die dinge waarmee ek hierdie jaar so geseën is op my lysie van onthou sal plaas.

Ja, ons het hordes goed waaroor ons kan kla en ontevrede mee was of is, maar as ons daai skaaltjie van goed of sleg moet inspan, sal ek glo dat jy, net soos ekself, sal agterkom die skaaltjie sal heel waarskynlik in die rigting van die mooi swaai. En dis hierdie mooi goed wat ons nodig het om aan die groot klok te hang en te vier.

Juis vanweë al hierdie mooi dinge wat ons individueel of kollektief kan vier, is dit nodig dat ons met harte van dankbaarheid die feestyd moet omarm.

Die feestyd wat vir ons voorlê hou die geleentheid in om goed te doen vir ander.

Dit behoort geen verrassing te wees waarom die feestyd sinoniem is met ’n seisoen van gee nie. Natuurlik het dit ook sy dieper geestelike waarde en betekenis, maar op voetsoolvlak beteken dit dan juis dat ons meer as ooit sal dink aan ons medemens met wie dit hierdie jaar dalk swaarder as myself gegaan het.

En soos wat ons in vrolike afwagting uitsien na die periode van rus en feesvier wil ek my instel om saam met jou die harte van ander bly te maak, want vroeër hierdie jaar was daar soveel mense wat my hart ook bly gemaak het.

Ek was vanjaar bevoorreg om die wonderlike daarwees en ondersteuning van familie en hegte vriende te ervaar.

Toe die jaar sy kwota uitdagings na my kant gestuur het, was dit hierdie einste familie en hegte vriende wat daar was om my weer te herinner dat elke wolk ’n silwer rand het. En in ’n land waar ’n mens moet waak teen daai gees van swartgalligheid oor swak dienslewering wat by so baie plekke en instansies die septer swaai, was ek so ’n ruk gelede aangenaam verras deur die prima dienslewering wat ek van ’n spesifieke instansie in die bankwese ontvang het.

My stresvlakke was hoog, want die betalings vir die maand moes gedoen word, maar op die spesifieke dag wou my banktoepassing net nie saamspeel nie.

Ek moes noodgedwonge die saak in lewende lywe by my bank gaan rapporteer. Groot was my verligting toe ek deur die bekwame amptenare bygestaan is en met ’n glimlag die bank kon verlaat. Dit mag dalk na iets onbelangriks klink, maar daardie dag het ek opnuut besef daar is soveel mense in ons mooi land wat omgee. Mense vir wie jy nie net nog ’n kliënt is nie, maar iemand met ’n naam en ’n behoefte wat eg is van aard.

Het ek opnuut besef ons as Suid-Afrikaners kan saamstaan, ongeag kultuur, velkleur of geloof. En soms, net soms, het ons nodig om net weer daaraan herinner te word. En met die aanloop na die feestyd wil ek van die eerstes wees wat met jou sal saamstem dat duur geskenke vir familie en hegte vriende dalkies nie daar mag wees nie, want kyk hoe hemelhoog is die kospryse alreeds.

Wees dus dankbaar as die uitnodiging vir die Kersete kom, maar moenie al daardie ekstras verwag nie. Hoe lui die spreekwoord nou weer? Dis daardie klein dingetjies of gebare in die lewe wat saak maak.

Die uitdaging is dat ons hierdie feestyd sal onthou die jaar wat amper verby is, vir ons soveel mooi en goed ingehou het en dat dit ons sal inspireer om goed te doen vir ander. My positiewe ervaring met my bank het my genoop om dit aan die groot klok te hang. Dit was vir my nodig om die erkenning aan daardie goeie mense te gee. Erkenning deur woord en daad. Ek hoop daardie mense kry ’n stewige bonus hierdie jaar vir hul knap dienste gelewer.

In dieselfde asem kan ons rondom hierdie jaar se Kerstafel ons waardering, liefde en omgee betuig aan hulle wat daar was en is vir ons. Dit behoorlik aan die groot klok te hang, want het ons nie al op soveel wyses geleer dat die lewe so broos en kortstondig van aard is nie? Niemand van ons is verseker van nog ’n Kerstyd saam nie.

En as daar oorbly van die feestelikheid rondom daai Kerstafel, kom ons vergeet nie om ook dít te deel met die vreemdeling nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article