Haal liewer daardie ekstra komberse uit en maak seker diere is veilig terwyl die koue weer voortduur.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Dinsdag (13 Junie) ’n waarskuwing uitgereik dat koue, nat en winderige weerstoestande die res van die week sal voortduur.
’n Ontwikkelde kouefront het gister (Woensdag 14 Junie) die provinsie getref. Die weerdiens het gewaarsku met die vinnige daling in temperatuur moet veral kleinboere seker maak hul vee is beskut teen die winterweer “om verliese weens blootstelling te voorkom”.
Dinsdagoggend (13 Junie) is 3 mm in Lambertsbaai, 1 mm in Redelinghuys en 2 mm in Porterville gemeet. Woensdag se kouefront was egter net die eerste van vele, het die Weerdiens gewaarsku. By Cape Columbine se ligtoring is 8 mm reën gemeet en 3,6 mm in Langebaanweg.
Ten spyte van die ongerief wat met die kouer weer gepaard gaan, is dit goeie nuus vir damvlakke in die provinsie. Die Bergrivierdam was Dinsdag 102,5% vol en die totale damvlak vir Wes-Kaapse damme is op 79,6% gemeet.
Hoewel die reën gewens is, is vele onkant betrap deur die weer, selfs munisipaliteite. In die Cederberg-munisipaliteit se jongste kommunikasie met inwoners het die burgemeester, dr. Ruben Richards, gebieg die munisipaliteit is onkant betrap deur onlangse reënweer.
Verstopte dreine was die minste van hul probleme. ’n Bakkie vol mense is op 8 Junie in die omgewing van Nuweplaas, 15 km van Wuppertal, byna meegesleur en die insittendes het amper verdrink toe hul bakkie in die rivier beland het. Die insittendes kon gelukkig met die hulp van ’n trekker uit die rivier gesleep word.
Teen Woensdagoggend was daar ’n paar voorvalle waarin Moeder Natuur lewens ontwrig het. In St. Helenabaai moes motoriste koes vir modder nadat die pad na Laingville en die dorp oorspoel is. Teen druktyd was munisipale beamptes besig om seker te maak die probleem is opgelos.
In Langebaan het ’n straat in Laguna Estate oorspoel. Ethne Lawrence, munisipale woordvoerder, het bevestig die oorstroming was weens ’n private stormwaterdam.
Vir Middelpos-inwoners was dit ’n nat oggend met die pad na die woonbuurt wat oorstroom is, sowel as dele van die nedersetting.
Die Weerdiens het Woensdag ook gewaarsku dat die oorstroming van paaie en informele nedersettings vandag (Donderdag) en môre (Vrydag) in die Bergrivier-gebied mag voorkom.
In Saldanhabaai is vissers gemaan om kleiner en eenmanvaartuie soos kajakke te vermy.
“Eienaars van klein bote en persoonlike vaartuie word aangeraai om weg te bly van die oop see en die skuiling van ’n hawe, riviermonding of beskermde baai te soek.
“Die publiek, veral die toeriste wat nie vertroud is met die kusroetes waar opgeboude sand verwag word nie, word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik. Wees bewus van groot onvoorspelbare golwe langs die kus,” lui die waarskuwing.
. Saldanhabaai-munisipaliteit se noodnommers: SBM-rampbestuur 022 701 6835, noodbeheerkamer 022 701 6834 en 24-uur kontaksentrum 022 701 7061.
. Bergrivier-munisipaliteit: 083 272 4137.





