Sersant Jonathan Adams het in ’n botsing reg van voor gesterf.


“ ’n Week van verskriklike padslagting.”

Só het kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisiekluster, na die afgelope week (25 April tot 1 Mei) verwys nadat vier mense hul lewe in verskeie botsings oor die klustergebied verloor het.

Die vier noodlottige botsings het onderskeidelik in Paternoster op 25 April, by die Saldanha-sirkel op 27 April, in die Eendekuil-omgewing op 28 April en op 29 April in Porterville gebeur. . Weslander het reeds verlede week berig oor die botsing wat Maandag 25 April in die vroeë oggendure in Paternoster gebeur het. In hierdie voorval het ’n man gesterf en twee ander mense is ernstig beseer nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit in ’n moeras beland het.

Sedertdien het Weslander beeldmateriaal van ’n veiligheidskamera ontvang wat die botsing afgeneem terwyl dit gebeur het.

Op die beeldmateriaal kan duidelik gesien word dat die voertuig teen hoë spoed teen ’n struktuur bots en in ’n stofwolk in die lug tol voordat dit in die moeras beland.

Oor die gemeenskap se bewerings dat die bestuurder vermoedelik onder die invloed van ’n onwettige middel bestuur het, kan die polisie niks bevestig voordat die nodige forensiese verslae terug ontvang en nadere ondersoek ingestel is nie.. Woensdagaand 27 April omstreeks 22:00 het die bestuurder (49) van ’n silwer Toyota Hilux-bakkie vermoedelik beheer oor die voertuig by die Saldanha-sirkel verloor, waarna dit gerol het. Die man is op die toneel dood.. Volgens Helfrich is ’n polisieman van die Redelinghuys-polisiekantoor die volgende middag, Donderdag 28 April, op slag in ’n botsing reg van voor in die Eendekuil-omgewing dood. Sersant Jonathan Adams (32) was aan diens toe die botsing sy lewe geëis het. Kaptein Renier Bostelmann, bevelvoerder van Redelinghuys-polisie, sê Adams het die dag van sy dood by die Piketberg-hof gewerk en was onderweg terug na die Redelinghuys-polisiekantoor toe die botsing skuins ná 12:00 gebeur het. Die bakkie waarin Adams gery het, en ’n vragmotor het teen mekaar gebots. Die twee insittendes van die vragmotor is nie beseer nie. Bostelmann het Adams as ’n “betroubare en hulpvaardige polisieman” beskryf en sy innige meegevoel namens Adams se kollegas aan die familie uitgespreek. . Die vierde botsing was Vrydag 29 April en het betrekking op ’n vroulike voetganger wat om 20:35 op die R44 in Porterville doodgery is. Die vrou se identiteit is nog nie bekend nie.

Gemeet aan Weslander se beriggewing oor botsings die afgelope paar jaar is dit opmerklik dat minder ernstige botsings as wat verwag word gedurende besige tye soos Paasnaweek in die gebied gebeur – juis omdat bykomende veiligheidsmaatreëls en gesamentlike veiligheidsoptredes ingestel word.

In die stiller week of twee daarna sal daar dan dikwels skielik ’n hele paar ernstige botsings wees.

Des Paton, provinsiale verkeer-streeksdirekteur vir die Weskus, sê hierdie waarneming “slaan die spyker op die kop”. Die provinsiale verkeersdepartement se beplanning vir die Weskus in die nabye toekoms is om deurlopend geïntegreerde padveiligheid-veldtogte in samewerking met die munisipale verkeersafdelings in die gebied, asook die polisie, ander wetstoepassingsowerhede en met die samewerking van motoriste te hou.

Hy sê plaaslike paaie gaan binnekort ’n baie veiliger plek wees aangesien die mobiele alkoholtoetseenheid, ook bekend as die Booze Bus, eersdaags weer op Weskuspaaie in bedryf gaan wees. In hierdie eenheid word die bestuurder se bloedalkoholvlak getoets en die uitslae is basies onmiddellik beskikbaar. Dit word as geldige bewysstuk in die hof aanvaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article