Met die liga voltooi, maar nog hier en daar ’n wedstryd in die Weskus-streek wat gespeel moet word, is dit steeds onbekend wie die Weskus-kampioen in die Boland-grootuitdaagbeker gaan wees. Met Mamre wat tans tweede op die punteleer is en met nog ’n wedstryd teen St. Helenabaai wat gespeel moet word, is die groen truie van Kenny Stadler tans in ’n beter posisie as Saldanha om as kampioen gekroon te word.
Mamre moet egter vyf punte teen die Agterbaaiers kry om die kampioen te wees. Saldanha en St. Helenabaai het Woensdagaand voor ’n tugkomitee van die unie verskyn oor die gebeure van 2 September toe die wedstryd ná slegs 10 minute in die tweede helfte gestaak is nadat ’n bakleiery uitgebreek het.
Die uitspraak van die verhoor was teen druktyd nog nie bekend nie.
Met die top-12 wat eersdaags afskop, sal dit baie interessant wees wat die uitspraak van die verhoor gaan wees en hoe dit verskeie spanne gaan raak. Mamre is intussen hard besig om vir sy wedstryd teen St. Helenabaai voor te berei en volgens Stadler is dit vir eers hul fokus om as Weskus-kampioen gekroon te word.
Vredenburg, wat dié seisoen een van sy swakste vertonings nog in die kompetisie ervaar het, moet nog Young Hearts op die grafkelder pak.
Young Hearts kan met vol- punte uit die wedstryd die span van Velddrif uit die vierde plek druk.
Koringberg, wat nie ’n enkele wedstryd hierdie seisoen kon wen nie, word volgende seisoen deur Steenberg Cove in die Grootuitdaag vervang.
Die span uit die Agterbaai het die rugbywêreld soos ’n storm getref sedert hy twee seisoene gelede begin het.
Die span van Steenberg Cove, wat in die laagste liga begin het, het egter met een doel voor oë begin.
Die span het verlede seisoen opgeskuif na die Streekuitdaag waar hy die seisoen in die tweede plek op die punteleer afgesluit het vir promosie na die Grootuitdaag.





