Ouers wat betyds vir plek in skole vir hul kinders in 2026 aansoek gedoen het, kan nou die uitslag van hul aansoeke op die aanlyn-toelatingstelsel sien.
Skole het die afgelope paar weke hul toelatingsbeleide toegepas om suksesvolle aansoekers op grond van hul kapasi-
teit vir 2026 te bepaal.
Ouers sal hul uitslae kan nagaan by: admissionswesterncape.datafree.co/admissions/admission.sm_admissions_tracking.homepage
As ouers tegniese probleme met toegang tot die webwerf ondervind, kan hulle 0861 819 919 skakel (druk 1 vir toelatings).
Ouers kan verwag om die lys skole waarvoor aansoek gedoen is, met die uitslag van die aansoek vir elke skool te sien.
As jou kind plek gekry het
Bronagh Hammond, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het gesê as ouers ‘n aanbod van ‘n plek vir hul kind ontvang het, sal ‘n skakel sigbaar wees wat hulle in staat sal stel om die plek te bevestig en te aanvaar.
“Ouers wat ‘n plek aangebied is, moet hul skoolkeuse teen Dinsdag 17 Junie bevestig. Ná hierdie datum sal hul skoolkeuse wat vdie hoogste op die lys is, outomaties bevestig word.
Hammond doen ‘n beroep op ouers om hul plekke so gou as moontlik te bevestig, aangesien dit plekke vir ander leer-
ders sal vrystel. Dit is veral belangrik waar ‘n leerder aanbiedinge van verskeie skole ontvang het.
Meer as 44 000 leerders is by meer as een skool aanvaar, wat bykomende plekke vir ander leerders moontlik maak wat nie suksesvolle aansoeke by skole of by hul skool van keuse ontvang het nie.
Die departement verwys na hulle as “dubbelparkeerders”.
Sodra hierdie “dubbelgeparkeerde” leerders by ‘n spesifieke skool bevestig is, kan die plekke by die ander skole vir ander leerders aangebied word.
As jou kind nié plek gekry het nie
Party leerders sal nie suksesvol geplaas wees gedurende hierdie eerste aanvanklike fase nie.
“Ons weet dit is uiters stresvol en teleurstellend, maar ons doen ‘n beroep op ouers om in gedagte te hou dat ons nog baie vroeg in die toelatingsproses is en duisende plekke sal steeds oopgaan sodra “dubbelparkeerders” hul plasing op die stelsel aanvaar.”
Hammond raai ouers aan om in kontak te bly met die skole waar hulle aansoek gedoen het en te versoek dat die leerder op ‘n waglys geplaas word.
Hoewel die gewag stresvol is, sal baie verskuiwings die volgende paar maande, of soos wat skole hul toelatingslyste finaliseer, in die stelsel ontstaan namate ouers plekke bevestig en van die hand wys.
“As ouers later vanjaar steeds nie ‘n plek vir hul kind het nie, sal die departement hulle met plasingsopsies help,” het Hammond gesê.
Nog nie aansoek gedoen nie?
Die aanlyn toelatingstelsel is nou gesluit vir grade R-, 1- en 8-aansoeke. Ouers kan egter steeds vir 2026 by een van die onderwysdistrikskantore of by ‘n skool aansoek doen. Die skole kan aansoeke vaslê, maar dit bevestig nie aanvaarding nie.
• Ouers kan 0861 819 919 vir verdere raad en hulp skakel indien nodig.




