Personeel van WDM se rampbestuursentrum deel kos uit op Mandeladag in Moorreesburg.


’n Vennootskap tussen Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM), Swartland-munisipaliteit, die Rooikruis, Mediese Nooddienste en Suid-Afrikaanse Polisiediens het die harte van oud en jonk in die woonbuurt Rosenhof, Moorreesburg met vreugde gevul hierdie Mandeladag.

Danksy die samewerking van hierdie rolspelers is Mandeladag (18 Julie) saam met die gemeenskap gevier.

Die taxi-staanplek in Rosenhof het die “gees” van Mandela-dag ervaar toe die gemeenskap bymekaar gekom het vir 67 minute van vrygewigheid en mededeelsaamheid.

Die Rooikruis het vir 1 000 mense warm etes verskaf terwyl personeel van WDM se rampbestuursentrum veiligheidswenke aangebied het.

Die Khet’lpilo-organisasie en die mediese nooddienste het gratis gesondheidsdienste soos bloeddruktoetse aan bejaardes verskaf.

In samewerking met Swartland-munisipaliteit is die plaaslike speelpark skoongemaak en het die gemeenskap bome geplant om die gebied te verfraai.

Die Rosenhof-gemeenskap het bymekaar gekom om die nalatenskap van Nelson Mandela te eer deur liefde te betoon en in 67 minute het hulle bewys dat klein dade van vriendelikheid ’n beduidende impak kan maak wanneer mense verenig vir ’n gemeenskaplike doel.

Mandeladag word jaarlikse op die wyle staatspresident se verjaarsdag gevier.

Hoof van die rampbestuursentrum by Weskus-distriksmunisipaliteit, Franquin Petersen, het gesê die gees van Mandeladag moet almal inspireer om ’n positiewe verskil te maak.

“My hoop is dat die gemeenskap die boodskap sal oordra dat ons saam ’n beter toekoms vir almal kan skep,” het Petersen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article